Onmin wat al jare lank broei in die Welkom Retirement Village kom tot uitbarsting in hofstukke in die hooggeregshof in Bloemfontein waar ’n voormalige bestuurder en voorsitter van die raad van dié oord vir bejaardes in Welkom verlede week
tot ’n onwettige inwoner verklaar is.
Gebeure van tot 13 jaar gelede is afgestof in bewerings van magsmisbruik, oneerlikheid, diefstal, nepotisme en selfs bedrog.
Waarnemende regter André Berry het in sy uitspraak gesê hoewel hy kennis neem van die lang geskiedenis van konflik tussen Beverley-Ann Shahia (72) en die raad, het hy nie te veel gewig aan die bewerings uit die verlede geheg nie.
In ’n uitsettingsbevel het Berry haar tot 31 Maart tyd gegun om haar eenheid in die oord te ontruim, anders word die balju gemagtig om haar uit te gooi.
Berry het bevind sy het nie haar ooreenkoms met die oord nagekom nie.
Sy is ook gelas om die regskoste te betaal.
Luidens die hofstukke skuld sy die oord meer as R60 000 aan agterstallige heffings. Shahia het dit ontken en gesê sy het betaal wat sy glo sy verskuldig was.
Die raad het intussen haar verblyfkontrak gekanselleer. Sy weier om dit te aanvaar en het tot dusver geweier om te trek.
Die Welkom Retirement Village bestaan uit huisies waarin bejaardes lewensverblyfreg kan koop en woonstelle wat uitverhuur word. Shahia en haar oorlede man, Emil, het in die grootste van die huise by die ingangshek van die oord gewoon.
Albei was in ’n stadium direkteure van die raad. Shahia was van 2010 tot 2015 voorsitter van die raad. Sy was ook die bestuurder van die oord. Haar man se maatskappy het ’n kontrak met die oord gehad om herstelwerk te doen. Haar seun het ook tot 2019 vir die oord gewerk.
André Ouwerkerk, ’n raadslid van die oord, sê in ’n hofverklaring Shahia is ’n moeilikheidmaker. Sy belaster raadslede en versprei vals bewerings oor hulle. Een daarvan is dat hulle tussen R1,4 miljoen en R2 miljoen van die oord gesteel het.
Oor hom het sy glo te vertelle gehad dat hy ’n veroordeelde misdadiger is wat ’n aantal jare in die tronk deurgebring het. Sy het ook gesê dat hy in ’n verhouding met ’n vroulike werknemer van die oord betrokke is, sê Ouwerkerk.
Shahia ontken dat sy ’n moeilikheidmaker is en sê net 12 van die sowat 160 inwoners het ’n probleem met haar.
Sy ontken dat sy rondvertel het dat Ouwerkerk in die tronk was of dat hy ’n verhouding het. Shahia sê Ouwerkerk se suster het vertel dat haar broer al drie keer in die tronk was. Sy (Shahia) het dit nooit herhaal nie.
Ouwerkerk sê uit ’n ondersoek wat hy na die oord se geldsake doen, blyk dit verskeie soorte toerusting, soos ’n grassnyer, kompakteerder, matwasser en betonmenger, is met die oord se geld gekoop en het daarna by Shahia se familie beland.
In Junie 2013 het sy met die oord se geld ses tafels gekoop wat vir haar man se begrafnis gebruik is. ’n Geskil oor die eienaarskap van die tafels het daarna ontstaan, sê hy.
Adv. Neil Snellenburg SC in opdrag van André Podbielski van Podbielski-prokureurs het vir die bestuur van die oord opgetree. Adv. André Sander, in opdrag van Casper Kruger van Kruger Venter-prokureurs het vir Shahia opgetree.