OTM opgeblaas, inligting gesoek

’n Kitsbank by ’n vulstasie in Meloding by Virginia is opgeblaas.


’n Kitsbank by ’n vulstasie in Meloding by Virginia is opgeblaas.

Maandag (25/07) omstreeks 02:00 het ’n sekuriteitsbeampte gereageer op ’n paniekalarm by ’n vulstasie in Meloding.

Met sy aankoms het hy ’n groep van sowat tien mans opgemerk. Hy het ook gesien dat die OTM opgeblaas is.

Van die verdagtes het skote in die rigting van die veiligheidsbeampte geskiet en hy het teruggeskiet. Die verdagtes het te voet van die toneel gevlug.

“In hierdie stadium is dit nie bekend hoeveel geld gesteel is nie, maar R200-note, wat met groen ink gevlek was, is langs die kitsbank gevind,” sê kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte van die Lejweleputswa-polisie.

Verskeie patroondoppies en een lewendige 9 mm-rondte is op die toneel gevind.

’n Poging tot moord en die opblaas van ’n kitsbank word deur die Meloding-polisie ondersoek.

Enigeen met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, moet Sers. James Ramaphiri van die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid by 065-629-6409 of die polisie-noodnommer by 08600-10111 bel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.