AfriForum se Welkom-tak gaan vandeesmaand voort om water deur middel van noodwaterpunte aan die gemeenskappe van Welkom, Ventersburg en Riebeeckstad te voorsien.
Dele van dié dorpe se krane het die afgelope twee jaar sporadies opgedroog nadat die Matjhabeng plaaslike munisipaliteit versuim het om sy rekeninge te betaal en weens pompe nou ná jare se verval en die afskeep van roetine-instandhouding, vervang moet word.
Die eerste waterpunte is al in Desember opgerig.
Die gemeenskap kan by die volgende adresse van noodwaterpunte gebruikmaak:
¦ In Welkom by Stateway 394.
In Riebeeckstad by Jasonsstraat 22, Florastraat 20, Primrosestraat 35, Mannstraat 7 en Orchidstraat 35.
- In Ventersburg by Bayfordstraat.
“AfriForum kan nie toekyk hoe hierdie mense elke dag sonder water moet leef nie daarom het ons ingespring om die inwoners se moeilike omstandighede te verbeter. Inwoners het die reg tot skoon drinkwater en dit is skokkend om te sien dat die munisipaliteit niks aan hierdie situasie doen nie,” sê Johan Terblanche, voorsitter van die Welkom-tak.
“Munisipaliteite is verantwoordelik om hul pligte na te kom. AfriForum glo in selfdoen en ons sal, waar ons kan, self oplossings vir probleme vind. Ons is tans besig met die voorbereiding van ’n hofsaak teen die munisipaliteit oor hierdie waterkrisis,” sê Chris Morgan, distrikskoördineerder vir die Hoogland.
AfriForum sal voortgaan om hierdie probleme onder die munisipaliteit se aandag te bring en sal ook aanhou om druk toe te pas totdat dit reggestel is.