Enkele dae en die Goldco Spares Ysbeerseisoen begin met ’n groot slag.
Aldam se byeenkoms vir die Goudvelders beloof ’n dag vol pret, koudkry, samesyn en Vrystaatse gasvryheid.
“Navrae van oor die land heen stroom in en Gauteng gaan goed verteenwoordig word – Sasolburg stuur n mooi spannetjie.
“ ’n Groep MS-lyers, ook van Sasolburg, gaan swem om die kollig op MS te vestig en hul warrior-ondersteuners gaan hulle luidkeels van die wal aanmoedig.
“Die Rotariërs van Odendaalsrus staan reg by die kos- en koffiepotte.
“Mooi weer word voorspel.
“Op hierdie dag wil ons ook graag hulde bring aan wyle vriendin, mede-Ysbeer en gemeenskapsmens Alet van der Walt,” sê Felix Burri, organiseerder.
Op 6 Julie kom Bloemfontein aan die beurt, en dit beloof ook om ’n groot gebeurtenis te wees.
“Bloem is besig om lekker spoed te vang vir die Ysbeer-uitdaging.
“Jonk en oud sien uit na lekker samesyn, braai en gesinspret,” sê Burri.
Die swemmers durf op al die geleenthede die water om 12:00 aan.
Rig navrae aan Burri by 082-851-4584.