Hoewel daar boere in dele van die Vrystaat en Noordwes is wat tot 60% van hul graanoes verloor het, sal die land vanjaar beslis genoeg mielies vir binnelandse gebruik hê.
Sonnige en droër weerstoestande in die somersaaigebied het gehelp dat graanoeste in Februarie kon herstel nadat oormatige reën in Desember en Januarie in groot dele van die somersaaigebied geval het.
Die nasionale oesskattingskomitee (NOK) het vandeesweek sy syfers vir die plantseisoen bekend gemaak en daar word gereken dat die land vanjaar ongeveer 14,5 miljoen ton mielies sal stroop.
Verlede jaar se oes van 16,3 miljoen ton was die naasgrootste oes tot nog toe.
Die algehele mielieoes is 10,9% kleiner as verlede jaar s’n, maar steeds groter as die tienjaar-gemiddelde van 12,8 miljoen ton.
Die westelike saaigebied, waar die land se witmielies geproduseer word, is effens swaarder deur die baie reën getref.
Die land se witmielieoes sal ongeveer 1,1 miljoen ton (12%) minder as dié van verlede jaar wees.
Verlede jaar is 8,6 miljoen ton witmielies gestroop en die skatting is 7,5 miljoen ton vir vanjaar.
Die geelmielieoes is op ’n geraamde 7 miljoen ton 9% kleiner as verlede jaar se 7,7 miljoen ton.
Die land se algehele mielieverbruik is ongeveer 11,8 miljoen ton, wat beteken die land sal weer vanjaar mielies kan uitvoer.
Boere het vanjaar 37% meer hektare sonneblom as verlede jaar geplant.
Na verwagting sal vanjaar se sonneblomoes van 914 000 ton 35% groter as verlede jaar se oes van 678 000 ton wees.
Die land sal vanjaar effens meer grondboontjies produseer, 69 000 ton teenoor die 64 000 ton van verlede jaar.
Boere het heelwat minder sorghum as verlede jaar geplant en die oes sal 32% kleiner as verlede jaar s’n wees.
Die komitee raam dat 146 000 ton sorghum vanjaar gelewer sal word teenoor verlede jaar se 215 000 ton.