Vandeesweek is 542 verdagtes tydens die polisie se multi-dissiplinêre Operasie Shanela vir ernstige misdade in hegtenis geneem.
Hierdie misdrywe sluit in moord, verkragting, aanranding, dwelmverwante misdade, poging tot moord en verkragting, motorkaping, sake- en huisrooftogte.
Hulle fokus was op prioriteitsmisdade soos moorde, verkragtings, diefslag van vuurwapens, motorkapings, huisroof, transito-rooftogte, roof met verswarende omstandighede. Dit het ook padversperrings en voertuigbeheerpunte op geïdentifiseerde brandpunt-gebiede, ingesluit.
Die multidissiplinêre verskerpte operasies tussen verskeie veiligheid-afdelings is tussen 15 Januarie en 21 Januarie gehou.
“Die doel was om kontak- en geweldsmisdade te verminder en om die Vrystaat ’n veiliger plek te maak,” sê sers. Sinah Mpakane, woordvoerder vir die SAPD in die Vrystaat.
Tydens die optrede is persele, mense en voertuie deursoek.
Hulle het 11 160 ingrypings uitgevoer, wat voertuig-kontrolepunte, padversperrings, hoë sigbaarheid-patrollies en besoeke aan koshuise ingesluit het. Inspeksies is saam met die departemente van binnelandse sake en arbeid uitgevoer. Tydens die optredes het hulle drankhandelaars, tweedehandse handelaars, skrootwerf- en vuurwapenhandelaars besoek.
“Vuurwapens wat tydens hierdie operasies gekonfiskeer is, sal na ballisties gestuur word om vas te stel of dit nie tydens die uitvoering van ander misdade gebruik is nie,” sê Mpakane.
Speurders in verskeie distrikte het daarin geslaag om 412 gesoekte verdagtes vir verskeie misdade op te spoor en in hegtenis te neem.
Die SAPD het tydens die optrede beslag gelê op 184 755 liter alkohol, sestien gevaarlike wapens en verskeie dwelms wat tik, Mandrax en dagga insluit.