Op ons eie beland ons in die duister, maar deur die Gees sien ons lig

Dit is Hemelvaart en Pinkstertyd in die kerklike jaar. Dit beteken dat ons leef in ’n tyd van belofte en hoop.


Dit is Hemelvaart en Pinkstertyd in die kerklike jaar. Dit beteken dat ons leef in ’n tyd van belofte en hoop.

In Johannes 16:7 sê Jesus vir sy dissipels dat dit tot hulle voordeel is as Hy weggaan. Want dan sal die Heilige Gees na hulle toe gestuur word.

Die Heilige Gees word hier verder beskryf met die woord “voorspraak” – dit beteken dat die Heilige Gees gestuur is om vir ons in te tree, vir ons leiding te gee en om Jesus vir ewig naby aan ons te bring.

Ons verbind baie keer die Heilige Gees net aan die gawes van die Gees en dat die Gees ’n krag is waarmee spesiale gawes uitgeleef kan word. Die Gees se werking word dan verskraal. Dit sou beteken dat die Heilige Gees dan net vir ’n uitgesoekte groepie mense beskore sou wees.

Die Heilige Gees is juis gestuur sodat gelowiges nooit weer op ons eie hoef te probeer om die uitdagings van hierdie lewe te navigeer nie.

Die Heilige Gees gee wys­heid, leiding en troos, en bring hoop deur ons anders te laat kyk na ons omstandighede. Sonder die Heilige Gees se werking lyk die wêreld vir ons pikdonker, maar deur die Gees sien ons lig.

Baie mense se lewe is in ’n doodloopstraat, want hulle probeer op hulle eie die lewe uitsorteer. Die Heilige Gees is gestuur as ons Voorspraak by die Vader. Selfs wanneer dit vir ons voel of ons geen hoop en uitkoms het nie. Selfs al oorweldig sonde ons, kom die Heilige Gees en maak ons honger vir die verlossing wat Jesus gebring het. Hy plaas die begeerte in ons om Jesus aan te neem en sodoende seker te kan wees van die Ewige Lewe.

As ons in ’n doodloopstraat beland en ons dink dit is die einde – die Heilige Gees maak altyd weer vir ons ’n pad terug oop na Jesus toe. Dit is te wyte aan ons eie hardkoppigheid as ons nie daardie pad kies nie.

Maak jou hart oop en laat die Gees van Christus toe om jou die pad te wys.

You need to be Logged In to leave a comment.