Die Goudveldse gemeenskap is in rou gedompel ná die gru-busongeluk wat ses lewens geëis het.
Die ongeluk het gebeur toe die bus met 58 meisies op pad huis toe was ná ’n kamp. Die bus waarin hulle op die R70-pad van Ventersburg na Senekal gery het, het sowat 30 km vanaf Ventersburg omgeslaan.
Die oorlewendes is na verskeie hospitale in die Noord-Vrystaat geneem.
Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê in die nuutste verklaring dat vordering gemaak is op gehospitaliseerde leerlinge ná die noodlottige ongeluk
Die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein behandel ’n 14-jarige leerling wat betrokke was in die ongeluk.
Dié pasiënt is eers in Senekal se Itemoheng-hospitaal vir stabilisering opgeneem en daarna na die Dihlabeng-streekhospitaal oorgeplaas vir verdere spesialisbehandeling. Sy is toe na Pelonomi gestuur vir neurochirurgie.
Ten spyte van die ernstige kopbeserings wat opgedoen is, gaan dit goed met die pasiënt en kan sy familielede herken.
“Ons het hoop in haar volle herstel as gevolg van die volgehoue sorg wat sy ontvang het vanaf die ongelukstoneel en deur die verskillende vlakke van sorg,” sê Mvambi.
Die ander 14-jarige leerling met gesigbeserings bly onder behandeling by die Dihlabeng-hospitaal en is geskeduleer vir plastiese chirurgie op Maandag 12 Februarie.
Die Bongani-streekhospitaal behandel steeds die vier leerlinge met kritiese kopbeserings. Hulle is almal stabiel. Een van dié pasiënte is op 6 Februarie teater toe geneem vir ’n operasie en sy sterk aan in die saal. Sy kan al praat, maar is steeds onder swaar pynmedikasie en sedasie, sê hy.