Die 52-jarige oom van ’n 14-jarige meisie van Odendaalsrus is in hegtenis geneem vir statutêre verkragting nadat hy haar swanger gemaak het.
Die 40-jarige ma van die kind was op 7 Junie omstreeks 13:00 by die huis toe haar dogter van die skool af aangekom het en haar ingelig het dat sy swanger is.
Sy het gesê dat haar juffrou vir haar gesê het sy is swanger en dat sy haar ma moet vertel.
Op 7 Junie het die ma ’n swangerskapstoets gekoop en besluit om die kind na die plaaslike kliniek te neem.
“Die resultate was positief dat die leerling swanger is. Toe sy gevra is wie vir die swangerskap verantwoordelik is, het sy vir haar ma gesê dit is haar oom. ’n Saak van statutêre verkragting is geregistreer en die 52-jarige oom is in hegtenis geneem,” sê kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte vir die Lejweleputswa-polisie.
Die man het in die Odendaalsrus-landdroshof verskyn.