Sony, die pitbull-teef, is gesond voor die voorval waarin sy vir vuurwerke gevlug het.Foto: Verskaf


Sony, die pitbull-teef is uitgeteer, ontwater en beseer ná die voorval waarin sy vir vuurwerke gevlug het.Foto: Verskaf

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Kimberley het op Oujaarsaand en Nuwejaarsdag bontgestaan om “die stukke op te tel” nadat “wettelose en oningeligte mense” onwettig vuurwerke in woongebiede afgevuur het wat talle troeteldiere verwilder het.

Die organisasie het tientalle oproepe gekry oor diere wat in hul vlugtog beseer is, diere wat vermis geraak het en ontstelde honde wat deur lede van die publiek gevind is.

’n Veearts het haar dienste aangebied om beseerde diere te behandel.

Intussen is honde-eienaars wie se honde steeds weg is, bekommerd dat hul honde dalk in onwettige hondegevegte en jagtogte gebruik kan word.

In ’n plasing op Facebook sê die DBV in Kimberley dat hulle nie met die antwoord van oproepe kon voorbly nie en het mense versoek om geduldig te wees.

Hul inspekteur het meer as 800 km in 24 uur gery.

“Ons personeel probeer so vinnig as moontlik om by almal uit te kom. Ons het ook ‘n lys van eienaars wie se diere weg is.”

In Royldene het ’n inwoner op en af in die strate geloop en gesien hoe vuurwerke by huise in La Rochelle-, Goedehoop- en Boschendallaan afgeskiet word. Die inwoner oorweeg om klagte by die polisie in te dien sodra meer inligting beskikbaar raak. By een huis het ’n verskrikte rifrugteef oor die heiningmuur gespring en met bebloede pote teen die buurhuis se mure en vensters opgespring in ’n poging om in te kom.

Ander inwoners in die stad het vreemde honde in hul erwe gevind, maar kon die verskrikte diere nie aanhou nie omdat hul eie honde die vreemde diere verjaag het.

René Botha, wat Sony, ‘n pitbull-teef in Hadisonpark namens haar eienaars opgepas het wat met vakansie is, was radeloos van kommer nadat Sony uit die erf ontsnap het weens vuurwerk-ontploffings. Die vuurwerkpapiere het die strate vol gelê tydens hul soektog.

“Sony het deur die vurkheining gebyt en was skoonveld. Ons het oral gesoek, en ook berigte op Facebook geplaas. Ons het Sondagaand glad nie geslaap nie. Maandagoggend het ’n man gebel en gesê sy is op die Barkly-Wes-pad buite Kimberley in die veld. Ons het soontoe gejaag en moes ver in die veld inry voordat die hond gaan lê het. Sy was ontwater, bebloed, beseer en bang, glad nie die gesonde gelukkige hond wat sy tevore was nie. Ons kan haar nou glad nie alleen los nie, anders huil sy. Die veearts-rekening was R1 200. My hart is verskriklik seer oor wat Sony oorgekom het.”

Darryl Dodd, ’n inwoner van Royldene, sê hy moes die hele nag lank sy drie honde kalmeer omdat klappers aanhoudend afgeskiet is. “Ek beplan jaarliks my vakansie sodat ek met Oujaarsaand tuis is om na my diere te kyk. Die vuurwerke begin al om 22:00 en hou reg deur die nag aan. Ons moet ’n einde hieraan maak.”

Hunter, die pointer-teef wat in Douglas soek geraak het nadat sy vir vuurwerke gevlug het, is weer gevind.Foto: Verskaf

André Harris van Douglas se pointer-teef, Hunter, is eers Maandagmiddag gevind nadat sy vir die ontploffings gevlug het. Dit is al die tweede keer dat dit gebeur. ’n Vorige keer het iemand haar gevind waar sy twee ure lank onderstebo aan ’n vurkheining gehang het. Hy het oral kennisgewings geplaas en ’n beloning vir haar terugkeer aangebied.

“Ek was verheug toe JP Presents my laat weet dat hy en sy gesin die hond gevind en versorg het.”

Presents vertel dit was omstreeks 01:00 op Nuwejaar toe hy van sy werk in Kimberley terugkeer het huis toe. “Hunter was so 150 m van ons huis in die straat, en vreesbevange. Ek het haar ingelaai waarna sy dadelik in ons huis in gehardloop het. Sy wou nooit uit die huis kom nie. My kinders het baie lief vir haar geword, maar ek moes ons eie hond, Crossie, van haar weghou. Toe André daar aankom, kon jy sien dat Hunter en hy vreeslik bly was om mekaar te sien. Sy het reguit na hom gehardloop.”

Bennie Liebenberg en sy hingsvul, Mulilo-Terrance, wat vir die vuurwerke gevlug en in ’n droë vloedwaterkanaal beland het.Foto: Verskaf

Bennie Liebenberg van ’n perseel buite Hartswater is steeds woedend nadat sy percheron-hingsvul in ’n droë vloedwaterkanaal beland het nadat hy vir vuurwerke geskrik het. Die verwilderde dier het deur twee elektriese heinings en ’n teerpaal gebreek. Hy sou die vul moes skiet indien ’n been gebreek was.

“Dit was nie maklik om die vul van vyf maande oud wat al meer as 250 kg weeg uit die kanaal te haal nie. Intussen was die merrie, sy ma, die hings en die ander perde baie angstig oor die vul. Die hings wou uit die kamp breek. Omdat hy ’n baie groot sterk perd is sal dit chaos veroorsaak indien hy in so ? verskrikte toestand losbreek. Ons het die res van die nag by die perde deurgebring om hulle te kalmeer.”

Liebenberg sê hy het die vorige dae gesien hoe mense in die dorp met trollies vol vuurwerke wat onwettig by winkels gekoop is, loop. Op Oujaarsaand het ’n menigte mense die vuurwerke op ’n supermark se parkeerterrein afgevuur. “Dit was soos ’n oorlogsone. Daar is geen manier dat die polisie dit sou kon stopsit nie. Die vuurwerkverkope moet stopgesit word om die probleem om te los. Deesdae kan geen diere-eienaar vakansie gaan hou nie. Hulle moet nou hul diere Oujaarsdag oppas.”

Die polisie sê op hul Facebook-blad ingevolge die Vala Konke-veiligheidsveldtog en die Wet op Ontplofbare Stowwe en Regulasies is hulle en ander wetstoepassers soos munisipaliteite wat verordeninge moet toepas, vir burgers se veiligheid verantwoordelik.

“Nuwejaarsfeesvieringe is deur die onwettige gebruik van vuurwerke bemoeilik. Die publiek moet die polisie bystaan deur vuurwerke veilig en op veilige plekke af te vuur. Net gelisensieerde handelaars mag vuurwerke verkoop, en geen verkope mag by spaza-winkels, vlooimarkstalletjies of uit ’n bagasiebak gedoen word nie,” lui die plasing.

Sers. Dikeledi Gopane, woordvoerder van die polisie in Kimberley, sê hulle het geen inhegtenisnemings weens dié oortreding gemaak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.