- Matjhabeng se brandweerdienste is aan skerwe
- Die Welkom-brandweerstasie het net een werkende brandweerwa
- Brandweerdienste voldoen nie aan nasionale standaarde
- Brandbestryders moet maar klaarkom met watter beperkte toerusting hulle het
______________________________________________________________________________________
Matjhabeng se brandweerdienste is aan skerwe en tekortkominge belemmer nie net die reaksietyd op brande nie, maar plaas ook eiendomme, besighede en die lewe van inwoners in die gedrang.
Dr Igor Scheurkogel, DA-raadslid van Matjhabeng, sê daar is net drie semi-funksionele brandweerstasies wat die hele munisipaliteit bedien insluitend Welkom, Thabong, Riebeeckstad, Kutlwanong, Odendaalsrus, Nyakallong en Allanridge.
Die Welkom-brandweerstasie het net een werkende brandweerwa en word dikwels met slegs twee beamptes op ’n skof beman. Die telefoonlyne is opgeskort weens wanbetaling, wat inwoners sonder ’n manier gelaat het om nooddienste te kontak.
Matjhabeng-brandweerdienste voldoen nie aan nasionale standaarde nie, met onvoldoende personeel en beperkte hulpbronne wat ’n aansienlike risiko vir openbare veiligheid inhou.
Die afwesigheid van werkende brandkrane in woongebiede vererger die probleem.
“Brandbestryders moet maar klaarkom met watter beperkte toerusting hulle het, terwyl die Welkom-brandweerstasie nie noodsaaklike geriewe soos ’n ontvangsarea en behoorlike veiligheidsmaatreëls het nie,” het Scheurkogel aan Vista vertel.
Hy sê hulle gaan antwoorde eis oor die substandaard-toestand van die brandweerstasies.
“Boonop sal ons die ingryping van die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit versoek, aangesien hulle volgens die Wet op Munisipale Strukture magtiging het om brandbestrydingspogings binne die distrik te koördineer. Ons bly verbind tot die beveiliging van die gemeenskap se lewensbestaan ??en pleit vir die beskerming van eiendomme teen potensiële rampe,” sluit hy af.