Die Operasie Vala Umgodi-swerfspan, gevegs- en proaktiewe operateurs, lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en private sekuriteitsmaatskappye is meedoënloos in die uitvoering van ontwrigtende onwettige mynpolisiëringsaksies in die Vrystaat.
Op Vrydag 28 Maart het die span twee verdagte voertuie, ‘n Toyota Quantum en Hilux, wat in ‘n myngebied oortree het, opgemerk. ‘n Jaagtog het gevolg en die Quantum is tot stilstand gebring. Hulle het die vlugtende verdagtes agternagesit en twee van hulle in hegtenis geneem.
Misdaadtoneeldeskundiges is ontbied om belangrike bewyse van sigaretstompies, klere, kopuitrusting, mussies, ‘hoodies’ en handskoene in te samel. Daar is ook beslag gelê op gouddraende materiaal wat 16,29kg weeg.
Die polisie het sake van betreding van mynpersele, besit van vermoedelik goudhoudende materiaal en oortreding van die Immigrasiewet by die Theunissen-polisiestasie geopen.
Nog twee inhegtenisnemings is by die Old African Rainbow Mineral (ARM)-6-skag-area gemaak, waar twee mense besig met onwettige mynbedrywighede gevind is.
“Nog twee inhegtenisnemings is gemaak in die area, waar twee mense besig gevind is met onwettige mynbedrywighede. Die span het beslag gelê op gouddraende materiaal wat 41,20kg weeg,” sê lt.kol Thabo Covane van die polisie se korporatiewe kommunikasie en skakel-afdeling in die Vrystaat.
Uiteindelik het die span beslag gelê op goudverwerkingstoerusting soos ‘n 14kg-suurstofsilinder, ‘n 9kg-gasbottel, ‘n snyfakkel, ‘n stumper en stomppotte,
waterpompopwekkers en koppelpype by Beatrix, Old ARM-myne en G-Hostel in Thabong.
“Sake van betreding van mynpersele en die besit van vermoedelik goudhoudende materiaal, met ‘n bykomende klag van oortreding van die Immigrasiewet, is by die Welkom-polisiestasie geopen,” het Covane gesê.
Vier onwettige mynwerkers is in hegtenis geneem tydens bospatrollies by die Tetra Plantstasie-area in Beatrix-myn.


You must be logged in to post a comment.