’n Munisipale werker van Matjhabeng is noodlottig gewond nadat hy en sy vrou deur drie gewapende mans uit hul huis in Virginia ontvoer is.
Michael Mohlabane (57) het op 23 Augustus omstreeks 21:00 saam met sy familie televisie gekyk toe drie onbekende gewapende mans die huis binnekom.
Mohlabane en sy vrou is oorval en met skoenveters vasgebind. Die egpaar is toe agterop ’n munisipale bakkie gedwing wat buite geparkeer was.
Die ontvoerders het daarna met hulle na ’n verlate vulstasie in Saaiplaas, Virginia, gery.
“Die vrou is nie beseer nie, maar Mohlabane se lyk is later by ’n stortingsterrein naby ’n verlate vulstasie gevind,” sê kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte vir die Lejweleputswa SAPD.
“Hy het drie skietwonde, aan sy kop, bors en wang, opgedoen. Sy hande was steeds vasgebind. Die bakkie wat aan die Matjhabeng-munisipaliteit behoort, is verlate by Masimong 4-skag gevind.”
Die polisie ondersoek huisroof, ontvoering en moord.
Enigiemand met inligting wat na die inhegtenisneming van die drie moordverdagtes kan lei, word versoek om speurkonstabel Khaya Matinisa van die Virginia-speurdienste by 082-301-3062 te bel, of die polisie-noodnommer: 08600-10111.