Die leeuwyfie wat Vrydag ná beurtkrag vanuit die Tara Wildlife/HART rehabilitasiesentrum by Ventersburg ontsnap het, is ná drie dae steeds op vrye voet.
Thea Smit, voorsitter van Virginia en Bloemfontein DBV, sê sy is baie bekommered dat die leeuwyfie nog nie gevang is nie. Sy sê hulle het versoek dat helikopters gebruik word om die dier op te spoor, maar daar is nog nie sulke planne nie.
“Ek is bekommerd, baie bekommerd, dit lyk nie of iemand aktief soek nie. Ernest Khakhau, ’n Virginia DBV-inspekteur, is op pad om weer te gaan soek. Die leeuwyfie is vroeër naby Dampoort deur ’n jong seun gewaar, maar ons het nie weer nuus gekry nie,” sê Smit.
Smit het oor die naweek op Facebook geskryf die leeu is naby die grens van die Willem Pretorius-wildreservaat, etlike kilometers van waar sy uit Tara in Ventersburg ontsnap het, gesien.
Sy sê dit is die tweede leeuwyfie waarvan hulle bewus is, wat binne ’n maand in dié omgewing ontsnap het.
Inwoners word streng gemaan om versigtig te wees en indien iemand die leeu sien, dit by die SAPD se Stop Misdaadnommer 08600 10111 aan te meld.
Die leeuwyfie het Vrydag (23/09) omstreeks 04:00 ontsnap. Die polisie van Ventersburg is ingelig oor die een jaar oue leeuwyfie wat ontsnap het toe die wildlewe-omheining as gevolg van beurtkrag nie gewerk het nie. Tara is ongeveer 5 km vanaf Ventersburg in die rigting van Virginia.
Die soektog is begin en naburige stasies is gevra om te help soek. Natuurbewaring is ook deel van die soektog.