’n Grusame motorfiets-ongeluk het ’n Virginia-man in die fleur van sy lewe weggeraap.
Andrè (Cuzi) van Kraayenberg (42) was op Saterdag 24 Augustus op pad huis toe, toe sy motorfiets agter-in ’n ander motorfiets vasgery het. Die botsing het ’n ontploffing veroorsaak en die fiets het aan die brand geslaan.
Die ontploffing het veroorsaak dat die veld begin brand het, en die sigbaarheid is vir motoriste erg belemmer.
Die twee motorfietse het om 15:00 net ná die Sandrivierbrug by die afdraai na Tikwe Lodge, Virginia, teen mekaar gebots.
Van Kraayenberg was ’n bekende Goudvelder en het graag motorfiets gery. Hy was vroeër jare ’n ywerige korfbalspeler en hy en sy eerste vrou, Jeanine, het saam hul Noord Vrystaat-kleure in dié sportsoort verwerf.
Hy word oorleef deur sy drie kinders – Donavan (21) en Caitlin (18) van sy eerste huwelik met Jeanine, en Liané (9) van sy tweede huwelik met Chantell – sy skoondogter, Shinead Cloete; sy pa, Nick Swanepoel; sy ma, Marie; sy suster, Hanna van Heerden; en sy twee broers, Corrie en Hannes.
Van Kraayenberg word op Vrydag 30 Augustus om 14:00 vanuit die NG Wes Gemeente (Merriespuit) begrawe.