Van links is Tina Fouché, Antoinette Schoeman en Jan Jacobs. Jan en Tina is twee van die die gesigte agter Handjie vol, die groep wat slaggate in Riebeeckstad en die omliggende gebiede herstel en teer. Foto: Verskaf


Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:

Wat ’n hoendervleis-oomblik. Vanoggend toe ek gaan stap, het ons paadjies gekruis.

Jan Jacobs en Tina Fouche van Handjie Vol was fluks en met soveel sigbare ywer besig om die slaggate in Strausstraat in Riebeeckstad met teer op te vul. Wonderlike en merk­waardig netjiese werk.

Ek het weer besef dat die eenvoudigste goeie daad beter is as die edelste goeie voorneme. Dankie, julle twee kosbare en spesiale mense met harte van goud. Dit gaan nié ongesiens verby nie.

Ek glo en vertrou dat die eerste burger van Matjhabeng baie trots is op julle. Julle verdien net die allermooiste wense en komplimente vir julle harde werk.

Julle is vir ons almal ’n voorbeeld en, glo my, ek gaan die gate voor my huis herstel en die gemeenskap aanmoedig om dieselfde te doen. Ek gaan hard werk aan die projek en voorneme. Ek is só lief vir Riebeeckstad en sy mense!

Ons moet altyd in gedagte hou dat mens-wees is individueel-wees – ’n individu met ’n eie, unieke lewenstaak.

Maar mens-wees is op die ou end ook medemens-wees – medemens in diens van die geheel, op watter beskeie manier dit ook al is.

Dankie vir julle volhoubaarheid.

You need to be Logged In to leave a comment.