Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Ek het weer eens tot die slotsom gekom dat die Goudveld seker een van die vuilste en onooglikste streke in die land is.
Dit is een skreiende skande en ek kan maar net vir die bestuur van die Matjhabeng-munisipaliteit, die eerste burger en die premier van die Vrystaat sê dat dit teleurstellend is.
Is hulle ooit bewus van die drastiese agteruitgang van ons eens pragtige Goudveld?
Ek sien hoe klein kindertjies in die middel van ’n besige straat gevaarlike slaggate met grond vul. Hulle plaas hul lewe op die spel net om ’n paar sente te verdien.
Nou verwys ek weer na die bosse wat gevaarlik op die hoek van Mozartlaan en McLeanstraat groei. Hierdie doringbome en ander vuilgoed versper heeltemal die pad sodat jy amper driekwart oor die pad moet ry om aankomende verkeer te sien.
Ek en my man was onlangs amper in ’n noodlottige ongeluk betrokke.
Gelukkig kon my man, danksy ons Hemelse Vader, die ongeluk vermy. Dit was werklik net genade.
Die bosse hou ’n groot risiko in en sal so gou moontlik verwyder moet word.
Skoolkinders stap van agter die bosse op die teerpad op.
Uit ondervinding ry ek maar ’n wye draai om die bosse.
Hierdie is werklik een groot risiko.
Ek glo en vertrou dat hierdie boodskap ons bestuur van die Matjhabeng-munisipaliteit so gou moontlik sal bereik.

