Beverley-Ann ShahiaFoto: Verskaf

Credit: SYSTEM

“Ek moet nou op my oudag by mense vir verblyf gaan vra,” sê ’n 73-jarige weduwee van die Vrystaatse Goudveld, Beverley-Ann Shahia, wat deur die raad van die Welkom Retirement Village met ’n hofbevel uit dié oord vir bejaardes geskop is.

Boonop het lede van die raad en bestuur ’n “partytjie” ’n ent van haar huis af gehou terwyl die meubels van haar huis in die oord verlede week opgelaai is, beweer sy.

Ivan Jacobs, voorsitter van die oord se raad. Foto: Verskaf

Shahia, ’n voormalige voorsitter van dié raad en ook voormalige bestuurder van die oord, sê sy is nie bitter oor wat met haar gebeur het nie. “Maar ek is nie gelukkig nie.”

Sy gaan Donderdag die sleutels van haar huis naby die ingangshek van die oord aan die bestuur oorhandig. Dié dag doen die bestuur ook ’n inspeksie om te sien of daar enige strukturele skade aan haar huis is. “Watse strukturele skade sou ek nou aangerig het,” vra sy.

Shahia sê sy en haar man het in 2011 verblyfreg in die huis vir R100 000 gekoop. Haar man, Emil, het verbeterings van R800 000 aan die huis vir haar aangebring.

“Ek het gedink ons gaan hier bly tot ons dood. Nou loop ek hier weg sonder ’n sent. Ek het nie geld oor nie.”

Shahia is in Februarie in die hooggeregshof in Bloemfontein tot ’n onwettige inwoner van die oord verklaar en ’n uitsettingsbevel is gemagtig. Sy het later in die appèlhof in Bloemfontein verlof gevra om daarteen te appelleer. Dit is geweier.

Sy is toe tot eerskomende Vrydag tyd gegun om die huis te ontruim.

Die uitsettingsbevel het gevolg ná jarelange onmin tussen haar en die raad en ook omdat sy glo agterstallig is met haar maandelikse heffings.

Daaroor stem sy vandag nog nie saam nie: “Ek het elke maand my heffings betaal. Ek het hulle vir twee en ’n half jaar gevra om my rekening reg te stel. Hulle het dit nie gedoen nie.”

Sy sê mense in die oord kom huil nou by haar omdat sy weggaan. Wie gaan nou vir hul belange baklei? Toe sy sê dat hulle nie agter haar gestaan het nie, het hulle geantwoord dat hulle nie kon nie. Hulle was bang dieselfde gaan met hulle gebeur.

Oor haar vertrek sê sy: “Dit is nie die laaste wat hulle van Beverley sal hoor nie. Ek sal hulle wys. Ek is nog nie klaar nie.”

Ivan Jacobs, voorsitter van die oord se raad, het Dinsdag gesê nadat Shahia uit is, sal daar eers besluit word wat met die huis gedoen word. Dit sal waarskynlik uitverhuur word.

Hy sê daar moet ook eers ’n besluit oor die grasdaklapa by die huis geneem word, want die versekering daarop is duur.

Verder lyk dit volgens hom ook of daar waterskade aan een muur aan die kant van die motorhuis is. Van die teëls in die huis moet ook vervang word. Dit sal waarskynlik eers in Januarie volgende jaar kan gebeur.

Jacobs sê daar is verskeie mense wat belangstel om die huis te huur.

Oor die sogenaamde “partytjie” wat van die bestuurslede sou gehou het terwyl haar goed opgelaai is, sê hy drie van die raadslede het gesit en kyk dat daar nie eiendom van die oord weggery word nie.

  • “Dit was middagete en wat is daarmee verkeerd as ons gebraai het? Ons kan doen wat ons wil.” In ’n selfoonboodskap wat Shahia aan Netwerk24 gestuur het en wat blykbaar die afgelope naweek ook aan inwoners van die oord gestuur is, slaan Jacobs vure dood oor gerugte dat hy, of enige van die raadslede of hul vriende of familie van plan is om in te trek by die huis wat Shahia nou ontruim.

“Hou asseblief op met julle twakpraatjies,” sê hy oor dié gerugte wat glo in die oord versprei is.

You need to be Logged In to leave a comment.