Wat veronderstel was om ‘n vreedsame protesoptog vanuit Kgotsong te wees oor die beweerde korrupte bedrywighede by die Nala- plaaslike munisipaliteit, het vinnig in ‘n plundery van winkels ontaard.
Die optog het op Maandag 24 Februarie plaasgevind.
AfriForum se leier van die Bothaville-buurtwag, Dolf Meyer, het Maandagoggend op ‘n noodroep gereageer en die hulp van Vrystaat Landelike Beveiliging ingeroep om honderde kwaaddoeners te verjaag.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek, sê daar was na raming sowat 300 tot 400 betogers teenwoordig om hul misnoeë oor gebrekkige dienslewering – glo weens korrupsie – uit te spreek.
Die vreedsame betoging het egter vinnig in onluste ontaard.
Talle winkels is beroof en enkele voertuie is met klippe bestook.
Die skade aan die dorp sou veel groter gewees het indien die AfriForum-buurtwag en Vrystaat Landelike Veiligheid nie vinnig ingegryp en die situasie ontlont het nie.
“Die AfriForum-buurtwag het in samewerking met Vrystaat Landelike Beveiliging daarin geslaag om die onrus te ontlont, aangesien daar selfs kinders tussen die betogers was, en verdere toegang tot die dorp versper,” sê sy.
‘n Eenheid van die openbare-orde-polisie in Welkom was ook teenwoordig, maar omdat die betoging vreedsaam sou wees het hulle volle magte nie opgeruk nie.
Dié eenheid het later versterkings ingekry om deur die nag die situasie te monitor en om op bystand te wees sou daar weer onluste uitbreek. Die Bothaville-buurtwag en Vrystaat Landelike Beveiliging is ook op hoë-gereedheid sou dit nodig wees.
“Alhoewel die gemeenskap van Kgotsong alle rede het om met die munisipaliteit ongelukkig te wees, is dit baie jammer dat hulle nie amptelik hul griewe aan die munisipaliteit oorhandig het nie, maar eerder onskuldige mense en ondernemings geteiken en skade aangedoen het.
“Dit is ook baie hartseer dat kinders, wat in die skool hoort, gebruik was om die plundery te bewerkstellig.
“AfriForum hoop nietemin dat munisipale amptenare ag sal slaan op hierdie hulpkreet,” sê Pretorius.
Sonder burgerlike veiligheidstrukture sou wet en orde nie doeltreffend gehandhaaf kon word nie. – AfriForum