BETHLEHEM – Ongure en vreemde weerpatrone het die afgelope week amok in dele van die Oos-Vrystaat gemaak.
‘n Video is op Storm Report SA se Facebook-blad op Donderdag 6 November gedeel toe ‘n tornado buite Harrismith waargeneem is. Swaar weer het vinnig ontwikkel en stormagtige weer met swaar reën het oor die Oos- en Noord-Vrystaat heen voorgekom.
Verlede Vrydag 31 Oktober het ‘n hewige haelbui in die Bethlehem-omgewing uitgesak met hael so groot soos gholfballe. Die selfde aand is Rosendal deur ‘n verwoedende storm getref wat na bewering moontlik ‘n tornado kon wees. Verskeie inwoners is dakloos gelaat en herstelwerk in die dorp het reeds begin.
Volgens Bonni Meyer, ‘n inwoner van Rosendal, het die erge storm met swaar reën en wind Vrydag net ná 19:30 die dorp getref.
“Die storm het behoorlik verwoesting gesaai met bome wat in die strate om gewaai is en op huise se dakke beland het. Van die inwoners se huise se dakke het afgewaai en die dorp was sonder elektrisiteit,” sê Meyer.

Weldoeners het die inwoners wat deur die storm skade gelei het gehuisves terwyl owerhede en nooddienste ontbied is om inwoners by te staan. Niemand is in die storm beseer nie.
“Ons het eers Saterdagoggend die omvang van die skade wat deur die storm veroorsaak is besef. Die Rosendal Country Retreat se kapel se dak is afgewaai en dit was skokkend om die chaos wat die storm veroorsaak het te aanskou,” sê Meyer.
Kyk die video van Corné Viljoen hier: https://www.facebook.com/reel/1746111056060225
In ‘n persverklaring deur raadslid Sello Mokoena van die DA in die Dihlabeng munisipaliteit, het Mokoena sy kommer uitgespreek oor die verwoesting wat die informele nedersetting Slabbets op Saterdag 1 November getref het.

Die gemeenskappe van Slabberts en Mautse, is soos Rosendal deur ‘n verwoestende storm getref, wat gesinne sonder skuiling of basiese noodsaaklikhede gelaat het.
Volgens ‘n verklaring op die Dihlabeng-munisipaliteit se Facebook-blad, het die munisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Rooi Kruisvereniging saamgewerk om broodnodige noodlenigings aan die gesinne van Rosendal en Slabberts wat deur die storm dakloos gelaat is te bied.
Die organisasie het op Dinsdag 4 November noodsaakhede soos kospakkies, komberse en matrasse, aan 12 gesinne in Slabberts en 11 gesinne van Rosendal wat dakloos gelaat is, oorhandig.
Verspreide donderbuie word vir die naweek in verskeie dele van die Oos-Vrystaat voorspel en dit kan tot Maandag duur.



You must be logged in to post a comment.