Die R30-pad naby Theunissen was die aand van 2 Januarie lank vir verkeer gesluit nadat twee mense in ’n botsing tussen ’n Toyota Corolla en ’n vragmotor by ’n kruising dood is.
“Die vragmotor was uit Welkom se rigting na Brandfort op pad toe die sedanmotor by die Caltex-kruising voor die vragmotor ingedraai het,” sê kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder.
Hy sê die vragmotor en die Toyota Corolla, met Vrystaatse nommerplate, het by die kruising gebots.
Thakeng het bevestig dat daar vyf mense in die sedan was en dat twee op die ongelukstoneel dood verklaar is. Die ander drie is na ’n hospitaal in Virginia geneem.
Die mans is glo mynwerkers wat van Mthatha na Rustenburg op pad was, waar hulle in ’n myn werk.
Thakeng sê ’n klag van strafbare manslag word ondersoek.
Die name van die oorledenes sal bekend gemaak word sodra hul naasbestaandes in kennis gestel is.