Die skielike afsterwe van die adjunkhoof van die Voluit Primêre Skool in Merriespruit, Virginia, het ‘n gemeenskap in rou gedompel.
Una van den Berg (61) is Saterdagoggend in ‘n noodlottige ongeluk by die Highlands-kruising oorlede. Boodskappe van vertroosting en medelye het van orals ingestroom.
Maandagmiddag is ‘n kranslegging by die skool gehou. Ongeloof en hartseer was tasbaar tydens die kranslegging.

‘n Bekende inwoner van Virginia, Cindy-Ann Oosthuizen skryf op Facebook – vandag is my hart swaar. Una van den Berg het tragies van ons af weggegaan, en die leegte wat sy los, is onmeetbaar. In Virginia, by Voluit Primêre Skool en in my eie hart – oral waar sy was, het sy ’n merk gemaak. Sy was nie net ’n onderwyser en vriendin nie, sy was ’n legende, ‘n vrou met ’n vuur in haar hart, ’n passie vir kinders, en ’n gees wat almal om haar ligter laat voel het. Ek gaan haar ongelooflik mis. Haar lag, haar raad, haar teenwoordigheid. Hierdie wêreld voel vandag net anders – stiller sonder haar. Rus sag, Tannie Una. Jy was vir my baie dierbaar.
In nog ‘n Facebook-inskrywing sê Elzané Jordaan dat haar hart baie seer is. “Ek het geen woorde nie. Juffrou Una ek het so baie by juffrou geleer. Dankie vir al juffrou se ontmeetbare liefde vir my drie dogtertjies, ons Vollie-familie en elke leerder wat elke dag in juffrou se teenwoordigheid was. Lieka gaan haar ouma krappie se grappies,en drukkies so baie mis. Ons almal gaan en doen reeds. Juffrou se lag was altyd aansteeklik, vinnige antwoorde en raad sal ons in ons harte koester. 14 Junie 2025 sal ‘n dag wees wat ons nooit sal vergeet nie. ‘n Finominale vrou het haar vlerke gekry. Vlieg hoog my juffrou. Rus sag.”
Larise Swanepoel skryf dit voel onwerklik. “Liefste juffrou Una, ek het nie woorde nie. Ons gaan juffrou baie mis. Dankie vir alles wat juffrou gedoen het vir mamma en almal by Voluit. Juffrou het almal gedra, almal lief gehad. Dankie vir die mentor wat juffrou was vir Brandon. Ons is lief vir juffrou. Rus in vrede.
Ook skole in die kontrei so ver soos Hennenman en Kroonstad het hulle medelye betoon. Van den Berg, ‘n gr. 6-onderwyser, het in 2018 by dié skool aangesluit toe die Laerskool Merriespruit en Virginia Volkskool saamgesmelt het. Die skoolhoof, JC Brummer bevestig sy gaan baie gemis word. Haar skielike afsterwe laat ‘n groot leemte, sê hy.
Die lewens viering van Van den Berg vind plaas Donderdg 26 Junie om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente Virginia.
You must be logged in to post a comment.