Die burgemeester van die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit, Thanduxolo Khalipha, vertel nie die volle waarheid rondom die jongste waterkrisis wat dié munisipaliteit in die gesig staar nie.
Só sê Stephan Pienaar, VF Plus-raadslid van die munisipaliteit.
Luidens ‘n verklaring van Khalipha, wat die afgelope naweek uitgereik is, word inwoners versoek om hul waterrekeninge te vereffen aangesien die Vaal Sentraal-waterraad beplan om die water na die munisipaliteit af te sny weens wanbetaling.
Vaalsentraal eis dat ‘n bedrag van R60 miljoen teen Woensdag 14 Mei betaal word.
“Wat Khalipha gerieflikheidshalwe nie noem nie, is dat Matjhabeng tot 40% van sy aangekoopte water verloor weens ‘n gebrek aan instandhouding wat al dekades duur.
“Die munisipaliteit se armlastige register is in ‘n haglike toestand is en dit is onseker hoeveel van die inwoners nog vir gratis dienste kwalifiseer en of hulle nie nou behoort te betaal nie,” sê Pienaar.
Uit raadsdokumente blyk dit ook dat veral ANC-wyke se invorderingskoers baie laag is.

“Ons is verder oortuig daarvan dat die munisipaliteit nie sy betalingsooreenkoms van R12 miljoen per maand nakom nie en vandaar Vaalwater se dreigement om waterverskaffing te sny.
“Dit is net billik dat almal wat dienste ontvang, daarvoor moet betaal en nie net ‘n handjievol getroue belastingbetalers nie.
“Die inwoners is nie die oorsaak van Matjabeng se waterprobleme nie. Dit kan net voor die deur van die ANC gelê word,” sê Pienaar.
“Tydens die spesiale raadsvergadering op Woensdag 7 Mei was lede van die VF Plus, DA, COPE en EFF gekant teen die aanbeveling van ‘n komitee oor vergoeding wat Khalipha moet ontvang vir die tydperk wat hy nie op kantoor was nie.
“Die verslag wat aan die vergadering voorgelê is, was onvolledig en ook nie deur lede van die komitee goedgekeur nie.
“Tydens die stemproses om te bepaal of Khalipha sy vergoeding mag ontvang, was daar 35 stemme ten gunste, 14 daarteen en een buitestemming.
“Die EFF het voor die stemproses die raadsaal verlaat,” sê Pienaar.
You must be logged in to post a comment.