Antoinette Schoeman, Riebeekstad:
Ek glo nie daar is ’n Goudvelder wat nie die hardwerkende span, Handjievol, met Jan Jacobs as leier ken nie. Hulle het al ’n huishoudelike naam in die Goudveld geword.
Ons is so geneig om goeie dinge en seëninge as vanselfsprekend te aanvaar.
Hierdie mense het al honderde slaggate herstel sonder enige hulp. Dit is maar onlangs dat hulle hier en daar ondersteun word.
Alle eer ook aan hierdie weldoeners. Dit gaan nie ongesiens verby nie.
Julle is werklik inspirerend, innoverend en insiggewend. Dit is duidelik dat julle uit liefde die groot werk saam aanpak.
Sonder Handjievol sou die Goudveld ’n veel slegter plek gewees het.
In my oë is hierdie weldoeners helde en engele op aarde.
Handjievol en elke organisasie en mens wat sy hand uitsteek om ander te help, verdien dank en ondersteuning.
Dit is jammer dat die eerste burger, Matjhabeng se bestuur en die regering nie in hierdie kategorie val nie.
Die premier van die Vrystaat en Pres. Cyril Ramaphosa en sy kaders kan gerus kyk wat hierdie mense doen.
Die woorde “dien” en “diens” moet in ere herstel word en losgemaak word van “verdien”.
Mense staan verstom en verras as jy sommer net iets vir hulle doen, sonder om ’n dankie of geld te verwag. Tog begin die vreugde van iets vir ander doen eers wanneer jy iets vir ander doen sonder om iets terug te verwag.
Dankie, Jan en jou span, vir julle diensbaarheid aan ons gemeenskappe.
Mag ons Hemelse Vader julle altyd styf vashou en ryklik seën met Sy mildelike reënbuie van liefde, genade, hoop en seëninge.
Waar mense diens lewer, is die lewe nie langer sonder sin nie.