Keagan Smith (15) is die nuwe Suid-Afrikaanse Ring Contact Fighting Arts International (RCFAI) kampioen in die o.75 kg-gewigsafdeling.
Hy het op 5 Maart op die Suid-Afrikaanse RCFAI Jungle War-kampioenskapsbyeenkoms presteer met twee goue medaljes en een silwermedalje in RCFAI, en hy het ook ’n goue medalje in kata verwerf.
Keagan kom nou in aanmerking om gekies te word vir die Suid-Afrikaanse span wat in 2024 aan die Olimpiese Spele gaan deelneem.
“Omdat RCFAI nou as ’n Olimpiese sport kwalifiseer, is Keagan een stap nader daaraan om hierdie droom van hom te bewaarheid,” sê sy ma, Adri.
“Hy sal van nou af aan verskeie kompetisies van die Suid-Afrikaanse Skopboks-vereniging (Saka) moet deelneem om eindelik vir die Olimpiese Spele te kan kwalifiseer.
“Die eerste hiervan is eerskomende naweek, een van vele kwalifiserende uitdunkompetisies waaraan hy in die Vaal-gebied sal moet deelneem.”
Adri sê Keagan, ’n gr. 10-leerling aan Welkom-Gimnasium, het op ’n jong ouderdom besluit om eerder individuele sportsoorte, waarin hy vir sy eie vordering en prestasies verantwoordelik is, te beoefen.
“Hy het op vyfjarige ouderdom met gevegkuns begin. In die afgelope tien jaar het hy JKA-karate, skopboks, Morganti jujitsu en RCFAI beoefen.
“Sy groot droom is om eendag in die Ultimate Fighting Championship (UFC) deel te deelneem.”
Benewens sy beoefening van gevegkuns is Keagan sedert 12 jarige ouderdom ’n kranige skut.
Hy is lid van twee skietfederasies.
Hy het Saterdag (12/05) aan die Suid-Afrikaanse Presisiesportskiet-federasie (SAPSSF) se Vrystaat-kampioenskapsbyeenkoms in Welkom deelgeneem, waar hy twee silwermedaljes gewen het.
Keagan se veelsydigheid en uiters mededingende geaardheid as sportman het tot dusver verseker dat hy op ’n jong ouderdom reeds twee Suid-Afrikaanse titels, Suid-Afrikaanse kleure in skyfskiet van die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging en Suid-Afrikaanse kleure in RCFAI ontvang het.
Nick Schoonwinkel, ’n bekende skut en afrigter in Suid-Afrika, rig Keagan af.
“Hy is ’n sagmoedige kind en het nie ’n bang haar op sy kop nie,” sê Schoonwinkel.