Die verslag van die ouditeur-generaal (OG) oor Vrystaatse munisipaliteite in die boekjaar 2022-’23 getuig daarvan dat die provinsiale regering nie die vermoë of die hulpbronne het om munisipaliteite behoorlik te moniteer en ondersteun nie.
Die vorige jaar se OG-verslag het getoon dat die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) sy mandaat versuim.
“Die mees ontstellende punt wat in die nuutste verslag uitgelig word, is dat die grootste munisipaliteite – met ’n gesamentlike begroting van R18,2 miljard en wat die tuiste van 46% van die provinsiale bevolking is – van die swakste bestuur word. Dit is Maluti-A-Phofung, Matjhabeng en Metsimaholo,” sê Leona Kleynhans van die DA, Cogta-woordvoerder in die Vrystaatse wetgewer.
Die 2024-begrotingstoekenning aan die departement in die plaaslikebestuur-program is net R110 miljoen. Die departement is ook weens kapasiteitsuitdagings nie in staat om die mislukte munisipaliteite te red nie.
Vrystaatse munisipale oudituitkomste toon dat vyf munisipaliteite nie betyds geoudit kon word nie weens die laat indiening van finansiële jaarstate; ook, by drie munisipaliteite, dreigemente teenoor OG-personeel.
’n Verdere die munisipaliteite, en een munisipale entiteit, het ’n vrywaringsmening ontvang, wat die swakste moontlike mening is en aandui dat die OG niks in die finansiële jaarstate kon staaf nie. Geen munisipaliteit het ’n skoon oudit ontvang nie.
Ondanks verskeie nasionale en provinsiale ingrypings sedert Januarie 2020 is die Mangaung-metro, die tuiste van ’n bevolking van 811 431 mense, steeds in ’n chaotiese situasie, wat die OG toeskryf aan politieke onstabiliteit en weerstand teen die ingrypings van die raad.
Die rampspoedige ervarings en lewensomstandighede van Vrystaatse inwoners – met groot wateronderbrekings, kinders wat in riviere van rioolwater verdrink, en ’n omgewingskatastrofe wat ontvou weens nie-nakoming van regulasies of voorskrifte – word daagliks in die media weerspieël.