Vyf dwelmhandelaars is in afsonderlike voorvalle in Kutloanong, Odendaalsrus, met Mandrax-tablette, heroïen (nyaope) en tik in hegtenis geneem.
Lede van die Welkom POP-reaksiespan het op 21 Maart omstreeks 09:00 inligting van inwoners ontvang oor mense wat met dwelms uit ’n huis in Kutloanong handel.
Die polisie het die huis deursoek en op sakkies tik, heroïen en R350 kontant afgekom.
’n Vroulike mynveiligheidsbeampte is by die huis in hegtenis geneem.
- Lede het toe verdere inligting ontvang oor nóg ’n buitelander wat dwelms van Welkom na Odendaalsrus vervoer. ’n Beskrywing van die voertuig is deurgegee en die verdagte is tydens ’n padblokkade aangekeer.
Die polisie het Mandrax-tablette, heroïen en tik in die voertuig gevind.
’n Drie-en-dertig-jarige buitelander is in hegtenis geneem.
“Ná ’n deeglike ondervraging het die verdagte die polisie na ’n huis in Residensia, ’n woonbuurt van Odendaalsrus, gelei waar nog dwelms gevind is. Blykbaar word die gehuurde kamer gebruik om hierdie dwelms te stoor. Daar is ook op twee skale beslag gelê,” sê kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte vir die Lejweleputswa polisie. Twee verdagtes is vir dwelmhandel in hegtenis geneem.
Brig. Mzondi Mojafi, die waarnemende distrik-kommissaris van Lejweleputswa, het Welkom POP-lede sowel as die inwoners toegejuig omdat hulle die dwelmhandelaars aangemeld het. “Hulle vernietig die toekomstige leiers, ons jongmense, met hierdie dwelms,” het hy gesê.