Die nuwe hoof van die Goudveld-Hoërskool is ‘n man van visie. Hy wil ‘n omgewing skep waarin kinders gedy en presteer, in hul moedertaal.

Mark Louwies is ‘n dinamiese man wat ‘n kultuur van dissipline en selfrespek wil vestig; die skool en gemeenskap aktief met mekaar wil verbind; sport, kultuur en leierskap op gelyke vlak verder wil versterk; en ‘n gelykwaardige, inklusiewe omgewing bou waarin elke kind gedy.

“Goudveld het ‘n goeie bestaande resep. Ek wil dit hou en daarop bou. Afrikaans as moedertaal is vir my baie belangrik”

– Mark Louwies, hoof van Goudveld-Hoërskool

“Goudveld het ‘n goeie bestaande resep. Ek wil dit hou en daarop bou. Afrikaans as moedertaal is vir my baie belangrik,” sê hy.

Louwies het bykans twee dekades ondervinding in die onderwys. Hy het op 26-jarige ouderdom as departementshoof van die senior fase by die Laerskool Pietersburg begin dien en op 30-jarige ouderdom as hoof van die Laerskool Mariepskop in Hoedspruit.

“Ek en my twee kinders, Mieke (17) en Reuben (13), is opgewonde om ons by die Goudveld-gesin aan te sluit”

– Mark Louwies, hoof van Goudveld-Hoërskool

“Ek en my twee kinders, Mieke (17) en Reuben (13), is opgewonde om ons by die Goudveld-gesin aan te sluit,” sê hy.

Hy kom Welkom toe ná twee jaar as die hoof van die Hoërskool Ellisras.

Met ‘n sterk agtergrond in sport, veral rugby, het Louwies talle spanne afgerig en bestuur, tot provinsiale en nasionale hoogtes.

Onder sy leiding het skole verskeie Limpopo-eindstryde bereik; het Cravenweek- en Grant Khomo-spelers hul kleure verwerf; is sportbegrotings volhoubaar beplan en bestuur; en is afrigtingstandaarde en veiligheidstelsels (soos BokSmart) professioneel gemoniteer.

Louwies het as tesourier en sekretaris van die Limpopo- hoërskole rugbyvereniging gedien en was afrigter, spanbestuurder en tegniese ontleder vir verskeie provinsiale spanne.

Sy passie vir sport as karakterbou-instrument word weerspieël in elke span wat hy lei met dissipline, deursettingsvermoë en trots.

Louwies visie vir die Goudveld is om ‘n diep verbintenis tot holistiese ontwikkeling te skep, en hy wil akademiese uitnemendheid verdiep deur doelgerigte ondersteuning aan onderwysers en leerlinge te bied.

You need to be Logged In to leave a comment.