Ek sit rustig in my studeer­kamer besig om te werk aan Sondag se preek, kyk by die venster uit, hoor die gefluit van die voëls en sien die groenigheid deurkom deur die dooie gras en die leë bome se takke.

Lente is uiteindelik hier, die koue is uiteindelik verby. Nog ’n rede om dankbaar te wees, ons mense het so min om na uit te sien, veral in ons land. En dadelik die vraag waaraan ek dink – hoe lui die gelowige se bede dan in hierdie moeilike tye? Dalk is dit ’n noodkreet, ’n klag Psalm, dalk die woorde van Psalm 69:2 “Verlos my, o God, want water het tot by my keel gekom.”

Vir ander dalk ’n lofpsalm, die woorde van Lied 563 “Aan U, O God, my dankgesange…”

Maar hoe moet ons bid? Hoe moet ons gebede dan lui in ’n tydperk van nuwe lewe wat spruit uit die natuur, maar in ons eie gemoed lê dalk ’n stukkie gebrokenheid, onsekerheid, verlange.

Jesus se volgelinge het waarskynlik in hulle tyd ook voor dieselfde dilemma gesit, ook gewonder en gesoek na daardie trooswoorde, en toe hulle saam met mekaar was gepleit, soos ons ook maar vandag sou pleit: “Maar Here, leer ons bid.”

Die eerste gebed wat by ons opkom, is ook die gebed wat Jesus vir die dissipels geleer het in Matteus 6:9 – “So moet julle dan bid…”

’n Wêreldbekende gebed, die Onse Vader, maar waar kry ek my krag in daardie bede?

Dalk in die stukkie belydenis in die begin: “Ons Vader wat in die hemele is” – ’n stukkie erkenning, Here, ons bid tot U, die God wat alles geskep het, die God wat woon in die hemele. Hoor tog ons smeekbede.

Of lê die hoop, koers en rigting waarna ons hart verlang in die gebede self? Die eerste bede: “Laat u Naam geheilig word.” Dat ons in ons lewensstrewe, in ons leefwyse en doen en late met mekaar en die skepping van so aard sal wees dat ons God se Naam heilig hou en nie belaster nie.

Dalk in die tweede bede: “Laat u koninkryk kom” – vra dat ons onsself diensbaar sal maak vir die uitbreiding van God se ryk op aarde. Die Heidelbergse kategismus sê dit so mooi: “Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp. Bewaar u kerk en laat dit groei. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees.”

Die trooswoorde waarna ons verlang, die kern van ons gebed in hierdie tyd lê dalk eerder vasgepen in die vierde bede, die gebed wat meeste van ons elke oggend pleit: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.”

’n Smeekbede, vir fisieke brood, iets om te kan eet vir die dag sodat my liggaam die dag se arbeid kan aanpak, ’n gepaste smeekbede, want ons weet die nood in ons land is groot.

Maar in die bede lê ook ’n stukkie erkenning van geestelike afhanklikheid.

’n Pleitbede dat ek vir die dag ook die geestelike voeding sal ontvang om my daaglikse arbeid te voltooi, maar om ook steeds nederig en eties te wandel saam met my medegelowiges. ’n Smeekbede vir my om my gees te versterk en te verryk met liefde, genade, troos en ontferming.

Laaste is die gebed ook ’n stuk erkenning, nie uit my eie nie Here, maar deur U wat vir my gee, wat my versorg, troos en voed. Die Heidelbergse Kategismus vat dit saam as: “Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is, sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is, en dat al ons sorge en arbeid en ook U gawes sonder U seën ons nie kan baat nie. Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel.”

As ons dan in hierdie nuwe seisoen soek na die bede van vrede, troos en krag in hierdie tyd, kan ons bede dalk só lui:

Ons Vader wat in die hemele is, wat ons uit die stof van die aarde geskep het.

Wat deur U Gees aan ons lewe skenk elke dag, help ons om vandag nie vas te kyk aan die bose en onsekerhede wat in my hart en gemoed my pla nie, maar om my dag so in te span dat ek alles sal doen ter wille van U heilige naam.

Laat my optrede en verhoudings met my medemens en die skepping U Naam heilig en nie belaster nie. Here, help my om vandag so te leef nie vir myself nie, maar vir U. Dat ek my medemens en die skepping met liefde, sagmoedigheid en nederigheid sal hanteer sodat U koninkryk kan kom.

Laat U wil deur ons lewensstrewe geskied, soos in die hemele so ook hier by ons op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood deur ons te help met ons fisieke nood en tekortkominge, maar ook die nood van ons gees, Here, daardie soeke na liefde, genade en troos.

Help ons om vas te hou aan U as die God waarop ons kan vertrou, die God wat ons daagliks voed, wat ons roep, nie ter wille van onsself nie, maar ter wille van die koninkryk van God wat ons moet verteenwoordig, ons bid dit in Jesus Naam. Amen.


) Ds. Domonic Basson is van die NG kerk St Helena.

You need to be Logged In to leave a comment.