Annatjie Jonk het haar 300ste parkrun in Virginia voltooi.Foto’s: Verskaf


Die bekende Goudveldse padwedloopatleet Annatjie Jonk het op 16 November op die rype ouderdom van 82 jaar haar 300ste parkrun in Virginia voltooi.

Sy het vanjaar al 45 parkruns voltooi.

Piet en Annatjie Jonk verlaat Virginia ná 58 jaar om hulle in Gauteng te vestig.Foto: Verskaf

Die viering van hierdie mylpaal lui ook die einde van ’n era in: Annatjie en haar man, Piet, verlaat hul geliefde dorp Virginia en begin ’n nuwe hoofstuk in hul lewe.

Die egpaar gaan Virginia ná 58 jaar verlaat en hulle in Gauteng vestig.

Annatjie, ’n meesters­atleet, het sedert 1987 aan verskeie pad- en nagwedlope deelgeneem. Sy het ook aan drie Comrades-wedlope deelgeneem.

Piet was 30 jaar lank ’n padwedloop-skeidsregter. Albei se loopbaan as atlete het met die Covid-19-pandemie tot ’n einde gekom, en Annatjie het haar toe op parkrun toegespits.

Piet is oorspronklik van Kroonstad. Hulle is op 10 Junie 1961 in Vereniging getroud.

Die paartjie het drie kinders, agt kleinkinders en vier agterklein­kinders.

Hulle was albei lede van die Harmony Striders-klub in Virginia.

Die egpaar was ook betrokke by die stigting van die Maanblom-jeugsentrum in Virginia.

You need to be Logged In to leave a comment.