Wiliam Goslette is as die nuwe adjunkhoof by die Primêre Skool Naudeville aangestel.
“Kinders wat ongeag hul huidige omstandighede presteer, maak onderwys die moeite werd,” sê hy.
“Dit is ’n ongelooflike voorreg om in die onderwys te wees en om elke dag iets nuuts saam met die leerlinge te ontdek.
“Dit verskaf ’n mens baie plesier in die lewe as jy sien wat kinders deur motivering met sport en akademie kan bereik.”
Goslette, wat in Welkom gebore en getoë is, het sy laerskooljare by die Laerskool Dagbreek deurgebring, waar hy die hoofseun was.
Hy het in 2001 aan Welkom-Gimnasium matrikuleer.
Sy reis in die onderwys het in 2004 as ’n leerlingonderwyser aan die Laerskool Dagbreek begin.
Hy het egter die omvang van sy passie vir kinders en sport besef nadat hy ’n diensjaar as ’n Christus-intern by die Lighuis Jesus-bediening gedoen het.
Hier was hy ook ’n sportafrigter.
Deur dié motivering en sy liefde vir kinders het Goslette hom by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) vir ’n baccalaureus-graad in opvoedkunde ingeskryf.
In 2019 is hy in ’n departementshoofpos by die Primêre Skool Naudeville aangestel.
Goslette glo sy onderwysloopbaan is die pad wat die Here vir hom gekies het, aangesien Hy hom die passie vir jongmense en kinders gegee het, asook die vernuf om met hulle te kan werk.
Aktiwiteite in die buitelug is van die stokperdjies wat Goslette, sy vrou, Jana, en sy gesin geniet.
In sy vryetyd kampeer hulle graag en vang vis.
Die gesin geniet ook saam sport en om te braai.
“Dit is vir my ’n groot passie om met jongmense te kan werk, op sportgebied en in die klaskamer.
“Jy moet net deurdruk, want op die einde van die dag is die beloning baie groter as enigiets anders,” sê Goslette.
Dit maak onderwys die moeite werd. – William Goslette