Noord-Kaap verras sy besoekers terdeë

’n Seevakansie met ongerepte strande, roei-ekspedisies op die Oranjerivier, sandplankry, staproetes, 4X4-roetes, nasionale parke, prettige padstalle, wynkelders, museums…


’n Seevakansie met ongerepte strande, roei-ekspedisies op die Oranjerivier, sandplankry – ook op “brullende” sand, een van die beste plekke ter wêreld om na sterre te staar, staproetes, 4X4-roetes, besoeke aan nasionale parke, prettige padstalle, wynkelders, museums…

Dít en veel meer is wat Noord-Kapenaars hierdie vakansie in hul eie provinsie kan beleef.

“Verken jou omgewing; beleef dit wat plaaslik aangebied word,” versoek die Noord-Kaapse Toerisme Owerheid (NCTA).

“Van die Kalahari na die kuslyn na die Karoo – die Noord-Kaap is ’n ideale bestemming om gehalte familietyd te beleef. Dit is tog waaroor vakansie gaan,” sê Dianna Martin, algemene bestuurder: bemarking en promosies NCTA.

Dianna Martin van die Noord-Kaap Toerisme Owerheid by die Groot Gat wat deel van die Kimberley-mynmuseum is. Martin raai Noord-Kapenaars aan om hul omgewing te verken, en die toerisme-aantreklikhede te besoek.

Tydens ’n onlangse mediabesoek aan die Kimberley Mynmuseum, waar die wêreldbekende Groot Gat geleë is, het Martin gesê die Noord-Kaap bied verstommende en buitengewone toerismegeleenthede.

Bied iets vir elke smaak

Die kontrasterende landskap – van die Kalahari met sy wit- en rooi sandduine, die Groen Kalahari wat al langs die Oranjerivier kronkel, tipiese Karoo-landskappe tot die rotsagtige kuslyn met uitgestrekte strande – bied iets vir elke smaak.

Selfs diegene wat nie gaande oor kampering, aktiwiteite vol avontuur en die buiteluglewe is nie, sal ’n luukse lodge of kampeerplek vind waar “glamping” (“glamorous camping”) beleef kan word.

Die Noord-Kaap is hoofsaaklik in vyf toerismestreke ingedeel.

In die Diamantveld-streek, wat Kimberley insluit, is talle museums om te besoek, en is ideaal om die kinders van die TV- of selfoonskerm weg te kry. Die Kimberley Mynmuseum, met sy outydse myndorpie en die bekende Groot Gat, is ’n besoek werd. Die Magersfontein-museum bied ’n ideale daguitstappie uit Kimberley.

Die Mokala- Nasionale Park, skaars 80 km buite Kimberley, is die nuutste nasionale park in die land. Kontrasterende landskappe en ’n groot aantal wildsoorte is in die park te sien.

Die Groen Kalahari-streek sluit onder meer Upington met sy kameel- en donkiestandbeeld en wynproelokaal in, asook Keimoes, Kakamas, Augrabies en Riemvasmaak, met sy verkwikkende warmwaterbron. Talle padstalle is op die roete geleë.

Die warmwaterbron by Riemvasmaak is in die omgewing van Augrabies in ’n bergagtige gebied geleë, tussen die Oranjerivier en droë lope van die Molopo-rivier.

Die Kgalagadi-oorgrenspark en die Witsand-natuurreservaat is deel van die Kalahari-streek. By Witsand is die bekende “brulsand” waar veral in somermaande ’n gebrul of gedreun gehoor kan word wanneer die duine uitgeklim word, of wanneer dit met ’n sandplank afgegly word. Die dreuning word veroorsaak deur die unieke tekstuur van die sandkorrels, en die wrywing wanneer die sand beweeg.

Behalwe die brulsand by Witsand, is sandplankry ’n prettige ervaring, soos wat Nina Badenhorst ondervind. Die bekende Voetspore-span, gelei deur Johan Badenhorst, het in 2020 deur dele van die Noord-Kaap gereis.

Die Karoo-streek sluit onder meer Calvinia met sy rooi posbus van ongeveer ses meter hoog in, asook Hopetown met sy historiese wabrug oor die Oranjerivier, en Sutherland met sy bekende sterrewag.

Die Namakwa-streek is veral vir sy blommeskouspel in Augustus en September bekend. Tog is dié streek dwarsdeur die jaar ’n besoek werd, onder meer om die Noord-Kaapse kuslyn van meer as 300 km te beleef, asook die Richtersveld.

Kokerbome is eie aan die Noord-Kaap, en ’n besoek aan ’n kokerboomwoud is ’n besondere ervaring.

Besoek experiencenorthern.cape.com of Northern Cape Tourism op Facebook

Die Noord-Kaap bied ’n ongerepte kuslyn van ongeveer 300 km, soos dié deel net buite Hondeklipbaai, wat een van die provinsie se kusdorpe is. Ander dorpe teen dié kuslyn is Kleinzee, Port Nolloth (wat McDougalsbaai insluit) en Alexanderbaai.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.