Die vrywilligers wat vanjaar drie veilings ten bate van Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds aangebied het, het reeds R48 144 tot die fonds bygedra. Lede van die komitee is van links Betsie Roux, Pieter Erasmus (Bainsvlei-afslaers) en Attie Roux.Foto: Lientjie Mentz


’n Anonieme skenking van R400 000, asook R20 000 van Kloppers, is van die welkome bydraes wat Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds kort voor Kersfees ’n groot hupstoot gegee het.

Danksy die bydraes asook die algehele opbrengste van R48 144 van drie veilings wat vrywilligers saam met Bainsvlei-afslaers aangebied het, trek die ingesamelde bedrag nou by R820 000.

Die ruim inbetalings bring mee dat daar nóg ’n kans vir welsynsorganisasies is om aansoek te doen om ’n toekenning.

Die fonds het vanjaar sy vorige Kersfonds-naam (pleks van die Ons Gee Om-fonds) begin gebruik.

Nog ’n verandering is dat Sentraal24 en sy vyf gemeenskapskoerante, Bloemnuus, Express, Vista, Vrystaat-Kroon en NoordkaapBulletin nou betrek is.

Die naamsverandering wys die betrokkenheid van dié gemeenskapskoerante en Volksblad in die gemeenskap om mense in nood te ondersteun.

Vanweë die veranderings, asook die afsterwe van Ria Kleingeld, jare lange sekretaresse by Engo en ’n Kersfonds-staatmaker, is uitbetalings nie soos gewoonlik in Julie gemaak nie.

Engo gaan voort om die administrasie van dié fonds te behartig waaruit liefdadigheidsorganisasies van oor die Vrystaat en Noord-Kaap heen voordeel trek.

Geregistreerde welsynsorganisasies wat nog nie vanjaar aansoek gedoen het om ’n bydrae uit die fonds nie, kry van 15 Desember tot 15 Januarie weer ’n kans.

Rig navrae per e-pos aan annemarie@engo.co.za en stuur die aansoekvorm wat dan verskaf word voor 15 Januarie terug.

Sedert die publisering van die laaste erkenningslys, het die fonds die volgende skenkings ontvang wat met dank erken word:Anoniem………………………………………..R400 000;Hester Delport………………………………R3 000;

Bainsvlei-afslaers: KersfondsveilingR16 700;NG gemeente GardeniaparkR2 285,20NG gemeente TaaibosspruitR195.95;S. OberholzerR10 000;Bainsvlei-afslaers: KersfondsveilingR17 971.65NG gemeente Excelsior……………………..R4 474;Bainsvlei-afslaiers: KersfondsveilingR13 479.25;KloppersR20 000;NG kerk Kimberley-VooruitsigR5 633.10;PnP Preller Walk/Reizis Square…….R10 000;Totale erkenning vir 2021/2022 tot dusverR820 143.88.

Kerke, instansies en individue wat graag nog ’n bydra tot die fonds wil maak, kan dit by die volgende rekening-besonderhede maak: Volksblad Kersfonds, Nedbank, rekening 102 891 9980, takkode 117 134.

Stuur ’n bewys van betaling aan annemarie@engo.co.za.

Maatskappye wat wil aansoek doen vir ’n artikel 18A-sertifikaat vir ’n skenking, kan Anne-Marie Nel by dié e-posadres kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.