Johan de Lange, Naudeville:
Dit is geen wonder dat Welkom se munisipale finansies in so ’n toestand is nie. Die traak-my-nie-agtigheid van die personeel wat daar werk ken waarlik geen einde nie.
Ek weet nie hoekom daar nog ’n skakelbord by die munisipaliteit is nie, dit kan maar net sowel afgeskakel word, aangesien daar nooit iemand is wat antwoord nie.
Dieselfde geld die department finansies. Daar is klaarblyklik ook geen toesig daar nie. Rekeninge word eenvoudig glad nie, per pos of per e-pos, gestuur nie.
Hoe en wanneer die betalings moet geskied, het die bestuur geen saak mee nie. Hulle kan ook nie geskakel word op die telefoonnommers op die rekeninge nie, want daardie nommers is altyd “temporarily unavailable”.
Hulle is natuurlik permanent onbeskikbaar, net soos die skakelbord.
Hoe moet ’n rekening betaal word as niemand weet hoeveel hy of sy moet betaal nie? Hoeveel geld die munisipaliteit al op dié manier verloor het kan net geraai word.
Hierdie is maar net nog ’n gemors van die Niemandsraad. Ek noem hulle die Niemandsraad, want niemand neem enige besluite van waarde nie, niemand is ooit beskikbaar nie en niemand gee ’n flenter om nie.