Nie alle dorpe in VS se water is veilig om te drink nie, bevind AfriForum

Die meeste dorpe in die Vrystaat, insluitend drie dorpe in Matjhabeng, se drinkwater wat getoets is, is skoon en drinkbaar.

Vista het in Maart 2022 berig dat ’n projek van meer as R60 miljoen by die Thabong-rioolversuiweringswerke aangepak sou word om Matjhabeng se rioolkrisis aan te spreek, nog niks het hiervan gekom nie.Foto: Verskaf


Die meeste dorpe in die Vrystaat, insluitend drie dorpe in Matjhabeng, se drinkwater wat getoets is, is skoon en drinkbaar.

Dít is luidens die bloudruppeluitslae van AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek, wat nou bekend gemaak is.

AfriForum het van Augustus tot November 2022 verskeie dorpe in die Vrystaat se water getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- (bloudruppelstatus) en rioolwater (groendruppelstatus) te bepaal.

“Ons kon vasstel dat 20 Vrystaatse dorpe se drinkwater – waaronder Bloemfontein, Boshof, Heilbron en Viljoenskroon – aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterieë bevat nie.

Die toetse het getoon dat Parys se drinkwater E.coli bevat terwyl Koffiefontein en Kroonstad se drinkwater “bloot nie op standaard is nie”.

AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets, want inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon drinkwater,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Volgens AfriForum se groendruppeluitslae voldoen 16 rioolsuiweringsaanlegte wat getoets is, nie aan die gestelde mikrobiologiese standaarde nie.

Die burgerregteorganisasie het sy kommer uitgespreek oor rioolsuiweringsaanlegte binne die munisipaliteite waarvan die rioolwater nie aan die gestelde standaarde voldoen nie. Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit is een van dié wat nie daaraan voldoen nie.

“Ons sal die nie-nakoming verder ondersoek en optree waar nodig,” sê Groenewald.

AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte. Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word.

“AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte. Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word,” sluit Groenewald af.

“Dit is ook duidelik uit die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se blou-en-groen-druppelverslag dat daar rede tot kommer is in Suid-Afrika. Hoewel die toestand van die krag in Suid-Afrika erg en uitdagend is, kan dit nie vergelyk met die waterkwessie waarop Suid-Afrika afstuur nie” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

AfriForum sal ook sodra die regering hulle nuutste verslag bekendgemaak het dit noukeurig deurwerk en monitor.

As die bewaarder van water kom die DWS nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige partye is nie. Dit is van kardinale belang dat ons sonder ophou die gehalte van ons drink- en rioolafvalwater toets. Ons moet dié lewensbelangrike bron beskerm.

You need to be Logged In to leave a comment.