Netbaltalent beloon

Kroasië, hier kom Chané Lang.


Kroasië, hier kom Chané Lang.

Dié 17-jarige Lejwelepu­tswa-netbalspeler het keurders beslis beïndruk. (Lees die berig hiernaas.)

“Dit was die grootste verrassing om so ’n jong speler in die Suid-Afrikaanse o.21-span te kon hê, en sy is ook die jongste speler in die span van 35 spelers,” sê Lea Jacobs, afrigter.

Die datum vir die Kroasië-toer is nog nie bevestig nie.

Jacobs sê dit is geskiedenis vir netbal in Lejweleputswa met die oog daarop dat die wêreldbekertoernooi van 28 Julie tot 6 Augustus 2023 in Kaapstad sal plaasvind.

“Chané is ’n hulpverdediger (HV) by haar skool, maar haar o.21-afrigter het haar voorberei as verdedigende vleuel (VV), wat ietwat sleg vir haar was. Sy het nie ’n keuse gehad nie en moes as VV uitdraf.

“Tydens die proewe het sy vele balle gedraai, wat suksesvol by doelpale geëindig het. Welgedaan, Ney-Ney, soos ons haar noem.”

Chané sê sy het vir Jacobs gesê sy het ’n passie vir netbal, en wil die nuwe posisie graag probeer.

“Ek het besef dat netbal die pad vorentoe vir my gaan wees,” sê Chané.

“Ek het vir myself doelwitte gestel, en het seker gemaak dat ek dit eendag sal bereik. Ná tien jaar het ek eindelik my doelwit bereik en is ek in die Suid-Afrikaanse o.21-span ingesluit.”

Sy het jare lank HV gespeel, maar toe sy vir o.21-Lejweleputswa gekeur is, het Jacobs haar talent vir ’n ander posisie raakgesien.

“Dit was ’n aanpassing om VV te speel, maar op die ou einde was dit die moeite werd. Sy het my baie gemotiveer om aan te hou om harder te werk. Ek het nie geweet met dié harde werk sal ek die vrugte daarvan pluk nie. Ek sal graag in die toekoms ’n Protea-speler wil word.”

Chané is ook ’n kranige Vrystaat-krieketspeler en oefen vir proewe in die nabye toekoms. Haar passie bly egter netbal.

“Ek is dankbaar vir my godgegewe talent.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.