Die Welkom-polisie het verlede week op grond van sterk inligting op ’n wit vragmotor toegeslaan wat besig was om R3 miljoen se gesteelde koperkabel by ’n Welkomse skrootmetaalhandelaar af te laai.
Dit was deel van ’n gesamentlik georganiseerde optrede op Dinsdag 26 Oktober, wat die Welkom-blitspatrollie, die SAPD se reaksiespan vir onwettige koperkabel en Matjhabeng Sekuriteit ingesluit het.
Die polisie het Berdine van der Merwe (57), die eienaar van die skroothandelaar, vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem.
Hulle het beslag gelê op 17 sakke vol Eskom-kabel en die vragmotor.
Van der Merwe het Donderdag (28/10) in die landdroshof in Welkom verskyn. Die saak word ondersoek.
Die distrikskommissaris van Lejweleputswa, genl.maj. Lerato Molale, het die span vir hierdie deurbraak geloof.
“Molale het die gemeenskapslede bedank wat inligting aan die polisie verskaf het. Alle inligting wat ontvang word, sal as vertroulik hanteer word,” sê kapt. Stephen Thakeng van korporatiewe kommunikasie en skakeling in Lejweleputswa.
Molale het verder gemeenskapslede en sakelui versoek om nie gesteelde eiendom te koop nie.
“Onwettige koperhandel sal ’n slag toegedien word as niemand dit wil koop nie. Koperkabeldiefstal het ’n nadelige uitwerking op die ekonomie en infrastruktuur,” het Molale gesê.
Daar was ook twee ander voorvalle verlede week. Op Woensdag 27 Oktober(27/10) het die polisie ’n 21-jarige Zimbabwiese burger in besit van R13 000 se gesteelde Telkom-kabels in Macbethstraat, St. Helena, in hegtenis geneem.
In die ander voorval op dieselfde dag het die polisie ’n koperkabeldrom ter waarde van R100 000 gevind wat by die Theronia-afvalwaterbehandeling-aanleg in St. Helena agtergelaat was.
Matjhabeng gaan erg onder koperkabeldiefstal gebuk, en dit het ’n negatiewe invloed op die Matjhabeng-ekonomie, sê plaaslike sakelui.
Kabeldiefstal in Riebeeckstad by die Matjhabeng-watertoring het Woensdag (03/11) die pompe en watertoevoer na die hoogliggende gebiede geraak, en die watervloei het in plekke opgedroog.
“Die polisie sal geen steen onaangeroer laat totdat hulle alle koperkabeldiewe in die Lejweleputswa-distrik aangekeer het nie,” het Molale gesê.
Molale het koperkabeldiewe gewaarsku dat hul dae getel is.