

Die eerste hekkie is oorgesteek in die Goudveldse kamer van koophandel se poging om die buitensporige verhogings in die kragtariewe van die Matjhabeng-munisipaliteit te laat hersien en tersyde te laat stel.
Nersa, die nasionale energiereguleerder, is gister in die Vrystaatse hooggeregshof gelas om binne tien dae volle skriftelike redes aan die kamer te verskaf oor hoekom hy dié nuwe tariewe waarvoor die munisipaliteit aansoek gedoen het, goedgekeur het.
Waarnemende regter P.E. Molitsoane het ook gelas dat Nersa afskrifte van alle kennisgewings om openbare vergaderings oor die munisipaliteit se aansoek om die verhoogde tariewe te hou en ook die notules van sulke vergaderings te verskaf.
Hy het ook gelas Nersa moet die koste van die kamer se dringende aansoek betaal.
Schalk van der Merwe, president van die kamer, sê in die aansoek om dié verhogings teen te staan het die kamer die redes en al dié inligting nodig.
Sodra hy die redes gekry het, gaan die kamer waarskynlik ’n interdik aanvra om die inwerkingstelling van die nuwe tariewe op te skort, hangende die afhandeling van ’n dringende aansoek om dit te hersien.
Van der Merwe skets in sy hofverklaring die nuwe krisis wat die kwynende Goudveldse ekonomie in die gesig staar.
Die verhoging in kragtariewe wissel tussen 40% en 100% en meer. Van die verhogings is tot 184%.
Hy sê die sakesektor is die hardste deur dié tariewe getref. ’n Private hospitaal sal nou byna R1 miljoen aan krag per maand moet betaal. Dit is dubbeld soveel as tevore.
In baie van die gevalle kan die ondernemings nie die buitensporige tariewe absorbeer nie, wat tot gevolg gaan hê dat hul produkte te duur gaan wees.
Hy sê volgens sy inligting skuld die Matjhabengmunisipaliteit reeds R2 miljard aan Eskom. Daarop moet hy sowat R20 miljoen per maand aan rente betaal.
Die munisipaliteit moet probeer om die geld iewers vandaan te kry en spits hom nou op die sakegemeenskap toe.
Dit is kortsigtig, want die sakegemeenskap kan nie dié soort buitensporige verhogings hanteer nie, sê hy.
Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia en Welkom val onder die Matjhabeng-munisipaliteit.
Meer as 400 000 mense woon in dié gebied. Daar is meer as 120 000 huishoudings met ’n amptelike werkloosheidsyfer van 40%.
Adv. Stefan Grobler, in opdrag van Casper Kruger van Kruger Venter-prokureurs en Peter Yasbek van Lovius Block-prokureurs, het vir die Goudveldse kamer van koophandel opgetree.