Die Ndlovu-jeugkoor van Suid-Afrika het Maandag na die kompetisie America’s Got Talent (AGT) teruggekeer en die gehoor op hul voete gehad met ’n oorspronklike liedjie wat ook die beoordelaars geroer het.
Simon Cowell, die uitvoerende vervaardiger en ’n beoordelaar, het hulle vir hul oorspronklikheid geloof en dit as die regte besluit beskryf om met hul eie materiaal terug te keer.
Hulle is gekies as een van die 60 beste vertonings uit al die AGT-programme wêreldwyd om aan die nuwe AGT: All Stars-kompetisie deel te neem.
Die liedjie “We will rise” handel oor die mens se veerkragtigheid en die hoop is dat dit veral Suid-Afrikaners sal aanspoor om bo al hul uitdagings uit te styg, het Ralf Schmitt, die koordirigent, voorheen gesê.
Schmitt sê die terugvoering van die beoordelaars dui op die koor se vordering, aangesien hulle kreatiewer wil wees. Die AGT Superfans – ’n groep van 50 mense wat die program al jare lank ondersteun – sal bepaal of die koor verder deurdring.