’n Uitstalling by die mees onlangse Nampo Oesdag in 2019.Foto: Verskaf


Die Nampo Oesdag by Bothaville sal vanjaar, ná twee jaar se afwesigheid, weer aangebied word en vir die eerste keer sal mense die oesdag oor vyf dae kan besoek.

Nampo, die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond, is in 2020 en 2021 weens die Covid-19-pandemie afgestel.

Graan SA sê die geleentheid sal vanjaar van 16 tot 20 Mei aangebied word. Nampo is gewoonlik net oor vier dae.

Graan SA het die afgelope week besluit dat die oesfees weer aangebied moet word met die nakoming van Covid-19-regulasies wat in daardie stadium geldig sal wees.

Die aantal besoekers wat op ’n slag op ’n terrein toegelaat word, is een van die regulasies waaroor daar nog nie uitsluitsel is nie.

Die afstel van twee jaar se geleenthede het verreikende gevolge gehad, nie net vir die organisasie nie, maar ook vir die omliggende dorpe.

“Die plaaslike distrik, wat nog nie heeltemal van buitensporige waterskade in Januarie herstel het nie, maak staat op die ekonomiese en finansiële inspuiting wat die oesdag meebring,” sê dr. Dirk Strydom, Graan SA en Nampo se bemarkingshoof.

Graan SA sê landbouprodusente en die publiek sal weer op die oesdag eerstehands kan beleef hoe moderne landbou lyk.

“Die 54ste Nampo-oesdag, wat as die hartklop van landbou in Suid-Afrika beskou word, bied ’n unieke platform waar produsente hul kennis kan uitbrei en nuwe oplossings vir landbou kan verken.”

Nampo bied ook ’n geleentheid vir gesprek en dialoog en stel die publiek en ander belanghebbendes in staat om kommersiële landbou en voedselveiligheid en -sekerheid in aksie te ervaar.

Meer as 80% van die gewone uitstallers het aangedui dat hulle weer by Nampo wil uitstal.

Bykans 800 uitstallers stal jaarliks by Nampo uit.

You need to be Logged In to leave a comment.