Kerse brand in die skool se ingangsportaal ter nagedagtenis van die ses jong meisies wat in die tragiese busongeluk dood is. Foto: Verskaf


Die name van die ses leerlinge van die Hoërskool Riebeeckstad wat in die tragiese busongeluk beswyk het, is bekend gemaak.

Hulle is, Oagile Gailele (13), Lerato Keketsi (13), Busisiwe Makansela (13), Tlotlisang Mokotjo (13), Relebohile Nteo (14) en Katleho Semelo (13).

Die Vrystaatse polisiekommissaris, lt genl. Baile Motswenyane, betuig weer haar innige meegevoel met die families en geliefdes wat deur die ongeluk wat op Dinsdag 6 Februarie plaasgevind het, geraak is.

“Ons harte gaan uit na die families en vriende van die meisies wat hul lewens in hierdie ongelukkige voorval verloor het. Ons versoek respek om die privaatheid van die bedroefde gesinne in hierdie moeilike tyd te betoon.

“Die polisie gaan steeds voort met ondersoeke na die oorsaak van strafbare manslag en dit is nog te vroeg om enigiemand aanspreeklik te hou. Ons doen ’n beroep op ons gemeenskappe om sensitief te wees oor die besonderhede rakende hierdie ongeluk. Mense moet nie onbevestigde inligting kommunikeer nie. Dit kan meer spanning by die gesinne, wat reeds deur baie moeilike tye gaan, meebring,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.