Die toestande op ’n onwettige vullisterrein buite Bothaville is haglik.Foto: AfriForum


AfriForum se Bothaville-tak het op 12 Desember ’n aanmaning rakende die haglike toestand van ’n onwettige vullisterrein buite dié dorp aan die Nala-munisipaliteit gestuur.

In die aanmaning eis Afri­Forum dat die munisipaliteit ’n daadwerklike plan vir die hantering van dié onwettige stortingsterrein moet opstel. Die munisipaliteit het tot einde Januarie 2024 kans om ’n plan voor te lê.

“Die munisipaliteit se onbereidwilligheid om gepaste afvalbestuur by hierdie vullisterrein toe te pas, beteken dat hy homself skuldig maak aan verskeie misdrywe ingevolge omgewingsbestuur- en munisi­pale wetgewing,” sê Willie Prinsloo, voorsitter van die Bothaville-tak van AfriForum.

Hy sê indien dié munisipaliteit nie teen einde Januarie ’n daadwerklike plan rakende die hantering van die vullisterrein voorlê nie, sal AfriForum genoodsaak wees om ’n klag teen die munisipaliteit by die polisie in te dien.

“Hoewel die munisipaliteit al verskeie kere versoek is om toe te sien dat onwettige storting hier beëindig word, en die rommel wel van tyd tot tyd opgeruim is, duur die deur­lopende storting van vullis en rommel hier voort.”

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is daar geen volhoubare plan of kundigheid om dié vullisterrein te bestuur nie.

“Dit is onrusbarend dat daar steeds op ’n onwettige terrein vullis gestort word,” benadruk sy.

Met ’n vorige vullisterrein­oudit wat AfriForum onderneem het, het die munisipaliteit aangedui dat hy hulp van AfriForum sal aanvaar om te help toesien dat die terrein op die regte wyse bestuur word.

“Daar het egter dadels van gekom, want die munisipaliteit het nooit weer op AfriForum se navrae gereageer nie,” sê Pretorius.

“Die hele terrein moet gerehabiliteer word en ’n nuwe, wettige terrein sal ontwikkel moet word.”

Soos dit nou bedryf word, hou dit geweldige omgewings- en gesondheidsrisiko’s in.

“Ons doen ’n beroep op inwoners om integriteit aan die dag te lê en nie van die dorp en oop veld ook ’n stortingsterrein te maak nie.

“Help ons om liewer druk toe te pas om ’n oplossing vir die probleem te kry,” sê Pretorius.

“Die toestand van die vullisterrein bevestig net weer die onbevoegdheid waarmee ons in ons munisipaliteite te kampe het. As dit daarop neerkom dat ons ’n klag by die polisie moet gaan lê, sal ons dit beslis doen, want al die inwoners se gesondheid is op die spel,” sê Prinsloo.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025