’n Korslose, moeitelose melktert-bederfie

Desembervakansie is sinoniem met lekker eet en die meeste mense is lief vir melktert. Dit kan as ’n verversing saam met ’n laatmiddag koffie geniet word of as nagereg.


Desembervakansie is sinoniem met lekker eet en die meeste mense is lief vir melktert. Dit kan as ’n verversing saam met ’n laatmiddag koffie geniet word of as nagereg.

Span jou familie of vriende saam en maak hierdie vakansie dié korslose melktert.

Die vulsel vorm vanself ’n kors en jy hoef nie ’n tertkors te maak nie – makliker kan dit nie.

Die resep lewer twee middelslag-terte.

Benodigdhede:

4 eiers, geskei

200 g (250 ml) suiker

60 g (75 ml) botter of margarien, gesmelt

140 g (250 ml, ongesif afgemeet) koekmeelblom

5 ml bakpoeier

1 knypie sout

1 liter melk

5 ml vanieljegeursel

40 g (50 ml) kaneelsuiker

Maak so:

1. Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer twee tertborde met ’n volume van 1 liter elk met botter of margarien, of bespuit hulle met kleefwerende middel.

2. Klits die eiergele, suiker en botter of margarien saam tot romerig. Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam en klits dit by die eiergeelmengsel in. Voeg die melk en vanieljegeursel by en meng.

3. Klits die eierwitte tot styf en vou dit liggies met ’n metaallepel in; die mengsel is dun. Gooi dit in die tertborde en strooi die kaneelsuiker bo-oor. Bak die terte 40 tot 50 minute op die middelste oondrak tot gaar.

4. Sit die melkterte warm of koud voor.

You need to be Logged In to leave a comment.