Twee buitelandse burgers is by G-Hostel in Thabong in hegtenis geneem vir onwettige immigrasie en die onwettige besit van edelmetale nadat hulle met 16 goue krale ter waarde van R50 000 gevind is.
Die mans is op 17 Augustus in hegtenis geneem tydens wetstoepassing optredes wat deel vorm van Operasie Vala Umgodi .
Die polisie het beslag gelê op goue krale wat 0,033 kg geweeg het en ’n kontant bedrag van R6 400.
“Operasie Vala Umgodi-lede word toegejuig vir hierdie inhegtenisnemings en beslagleggings by G-hostel in Thabong wat bekend is vir onwettige mynbedrywighede,” sê kapt. Stephen Thakeng, skakelbeampte vir die Lejweleputswa-polisie.
Tydens die provinsiale Operasie Vala Umgodi, wat tussen 11 en 18 Augustus uitgevoer is, is verskeie ontwrigtende operasies in die Noord-Vrystaat gehou.
Dít het verskeie misdaadbekamping-optredes ingesluit. Hulle het 75 mense vir onwettige immigrasie, poging tot diefstal van myn-eiendom, sameswering om ’n misdaad ondergronds te pleeg, onwettige mynbou, betreding, dwelms, besit van kosbare goud, die verkoop van drank sonder ’n lisensie en verkeer-verwante oortredings ingesluit.
Dié inhegtenisnemings en hoë polisiesigbaarheid het plaasgevind tydens operasies op die N1-snelweg by Ventersburg, die Ventersburg-sentrale besigheidsdistrik (CBD), Kopanang-myn, Great Noligwa-myn, Khutsong Moabi-myn, Jumbo-hostel, Vierfontein, Viljoenskroon, Bultfontein-CBD, Odendaalsrus, Welkom, Thabong, Meloding en Thabong G-hostel.
Die items waarop beslag gelê is, sluit in mandrax-tablette, groot hoeveelhede alkohol en ook goue krale. Verkeersboetes ter waarde van R9 500 is uitgereik.
Die verskillende polisie-komponente wat betrokke was, was die taktiese reaksie-eenheid, die eenheid vir openbare orde en polisiëring, die plaaslike kriminele rekordsentrum, die lug-eenheid (vir lugwaarnemings) en misdaadintelligensie. Immigrasiebeamptes en die weermag het saam met die polisie optredes gehou.
Die verdagtes sal onderskeidelik in die Welkom-, Odendaalsrus-, Viljoenskroon-, Bothaville-, Ventersburg- en Bultfontein-landdroshowe verskyn.
Thakeng sê die polisie sal voortgaan om onwettige mynbou in die Vrystaat hok te slaan.