Die jaarlikse Welkom Cars in the Park-geleentheid, aangebied deur die Welkom Old Auto Club, was ’n reuse-sukses.
Saterdag (01/10) het duisende mense saamgetrek op die Hoër Tegniese Skool (HTS) Welkom se sportterrein om die antieke, die nuwe en die vreemde voertuie te aanskou.
Teen 11:00 was daar 254 voertuie deur die hekke en ongeveer 1 450 mense het dit bygewoon.
“Daar was baie meer mense op die veld as ons die uitstallers, hul helpers en gesinne bytel,” sê Danie Correia, voorsitter van die Old Auto Club.
Die uitstallers het onder meer van Sedgefield, Hartenbos, Meyerton, Bothaville, Rustenburg, Secunda, Bloemfontein, Welkom, Odendaalsrus, Bultfontein, Virginia, Theunissen, Klerksdorp, Kroonstad, Pretoria en Kimberley gekom.
“Daar was 30 Thunder Tour-karre by Saterdag se skou in Welkom. Hulle is ’n nasionale groep mense met muscle cars, street rods, hot rods, rat rods en super cars. Hulle toer een keer ’n jaar van Pretoria na een of ander bestemming deur die land met hul voertuie. Hierdie toer duur ’n week,” sê Correia, ook ’n lid van die toer.
“Die Cars in the Park-naweek is ’n groot aantrekking na die Goudveld en is ’n reuse-kontantinspuiting vir Welkom. Ons het vanjaar skenkings vir die DBV en Claws gedoen,” sê hy.
Motors van alle groottes en soorte het na Welkom gekom om te pronk. Daar was ook tientalle kosstalletjies, en interessante juwele, klere, ornamente en meubels is te koop aangebied.