Motorfietsryers gerat vir deelname aan nuwe reeks

Die room van Suid-Afrikaanse supermotorfietsryers kan binnekort op die Phakisa-renbaan in Welkom gesien word.


Die room van Suid-Afrikaanse supermotorfietsryers kan binnekort op die Phakisa-renbaan in Welkom gesien word.

Die tweede rondte van die nasionale motorfietswedrenreeks (MRSSA) sal op 21 Mei aangebied word.

Talle inskrywings in verskeie afdelings is reeds ontvang vir dié nuwe reeks, wat op die Red Star-baan in Delmas begin het.

Clint Sellers, nasionale supermotorfietskampioen, sal onder andere in aksie wees.

Ná die eerste rondte, wat in Maart beslis is, is Sellers die voorloper op die punteleer.

Die enigste Vrystater in die kompetisie, Arno Erasmus (13) van Welkom, sal in die sub-500cc-afdeling op ’n 390cc-motorfiets meeding.

Dié afdeling is vir diegene wat op motorfietse van 500cc en kleiner deelneem.

Hy het in die eerste rondte ’n vyfde plek in dié afdeling behaal.

Arno neem ook aan die kortbaan-reeks deel, waar hy in sy afdeling bo-aan die punteleer is.

Die Phakisa-renbaan sal reeds op 20 Mei oop wees vir oefenritte.

Amptelike kwalifisering gebeur op 21 Mei, waarna die wedrenne sal plaasvind.

Van die nuutste supermotorfietse tot historiese motorfietse sal te sien wees.

Deelnemers het geen wedren­lisensie nodig nie en hoef nie aan ’n spesifieke klub te behoort. Enigeen, ongeag ouderdom of vaardigheidsvlak, kan meeding.

Deelnemers moet egter aan ’n siekefonds behoort wat beserings dek wat tydens deelname aan adrenaliensportsoorte opgedoen word.

Deelnemers wat nie daaroor beskik nie, kan van Motorsport Suid-Afrika mediese dekking vir die dag uitneem.

  • Die reeks word oor agt rondtes beslis, met sewe afdelings waarin deelgeneem kan word: supermotorfietse (nasionaal); ) onbeperkte afdeling; ) ope afdeling; ) tweesilinder en v4; ) meesters (45 jaar en ouer); ) sub-500cc; en ) klassieke motorfietse (1975 tot 1983, en 1984 tot 1989).

Belangstellendes kan Frans Fourie by 082-324-7011 bel om meer inligting te bekom. – Chrystelle Erasmus

Van die nuutste supermotorfietse tot historiese motorfietse sal te sien wees

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.