Meer as twee jaar nadat ’n pa en seun buite Hennenman op ’n plaas vermoor is, begin twee mans se verhoor vandeesweek in die rondgaande hof in Welkom.
Die moord op Pieter (56) en Eddie (26) Hills op 5 November 2020 was een van ’n vlaag plaasmoorde in Oktober en November daardie jaar in die Vrystaat.
Mojalefa Modise (38) van Ventersburg en Arthur Maloka (37) word van die moorde, huisbraak en poging tot huisroof met verswarende omstandighede aangekla.
Die staat voer aan die twee mans het moord beplan en op 5 November by die plaashuis op Zwartpan buite die dorp ingebreek en hul slagoffers ingewag.
Hoewel voorheen vermoed is dat Pieter geskiet is, is hy volgens die lykskouing verskeie kere met skerp voorwerpe gesteek. Eddie is in die nek en bors geskiet.
Eddie het nog geleef toe die polisie die oggend ná die aanval op die toneel opdaag. Hy is op 11 November in die Netcare Millpark-hospitaal in Johannesburg dood.
Drie mense is ná die moorde in hegtenis geneem. David Papi Mabai (47) het hom egter op 7 November in die aanhoudingselle om die lewe gebring.
Die staat voer aan die beskuldigdes het sekere verklarings aan die polisie en getuies gedoen. Pieter is glo eerste oorval en vermoor.
Eddie, wat by ’n gimnasium gaan oefen het, het later die aand by die huis opgedaag en is in sy nek en borskas geskiet.
’n Huiswerker, Anna Bochedi, het die volgende oggend op die toneel afgekom.
Antoinette, Pieter se vrou en Eddie se ma, was uithuisig en het Bochedi die oggend gevra om ondersoek in te stel omdat sy nie een van die twee mans op hul selfoon kon bereik nie.
- Brendin Horner by Paul Roux; Mark Regal by Odendaalsrus; Andries Loots by Virginia; en Dave Wessels by Viljoenskroon is ook in Oktober en November 2020 in die Vrystaat vermoor.