Die departement van minerale bronne en energie het die afgelope twee jaar versuim om ’n komitee te stig om Suid-Afrika se brandstofprysmetodologie te hersien.
Misa, die Motorbedryf-personeelvereniging, is in Julie 2022 deur Raphi Maake, senior bestuurder in die departement, genooi om van die beloofde komitee deel te word. Sedertdien is geen verdere stappe skynbaar geneem nie.
Maake sou na verwagting terugvoering gee op ’n onlangse vergadering van die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) se vinnigereaksie-taakspan wat met lewenskoste gemoeid is, maar hy het die vergadering nie bygewoon nie.
Hy het vroeër gesê dat die departement die nasionale tesourie genader het vir finansiering vir die brandstofprysmetodologie-oorsig. Dié versoek is deur die tesourie geweier, wat gesê het dat die departement die geld in sy bestaande begroting moet vind.
Martlé Keyter, Misa se uitvoerende hoof van bedryf, sê Suid-Afrikaners gaan intussen voort om hemelhoë brandstofheffings en belasting te betaal, net omdat dit ’n maklike bron van inkomste is om in te vorder.
Sedert 1 Mei 2024 word altesaam R6,40 van die bedrag wat per liter brandstof betaal word afgedeel vir die een of ander vorm van belasting of heffing.
Dit word hoofsaaklik gemaak van die brandstofbelasting, wat sowat 18% van huidige pryse verteenwoordig, en die Padongelukkefonds (POF), wat ongeveer 10% van huidige pryse behels.
Keyter sê die regering verwag om in die huidige boekjaar sowat R89 miljard uit die algemene brandstofheffing te maak, wat bykomend is tot die meer as R730 miljard wat dit die afgelope dekade tot gevolg gehad het.
Misa het die departement meer as twee jaar gelede genader omdat die vereniging meen die stygende brandstofpryse dra by tot die voortslepende haglike ekonomiese situasie.
“In die kleinhandelmotorbedryf het verkope van nuwe voertuie in Junie aansienlik gedaal, met 14% in vergelyking met dieselfde maand ’n jaar gelede, na 40 072 eenhede,” sê Keyter.
“Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het die repokoers onveranderd gehou op ’n 15-jaar hoogtepunt van 8,25% sedert Mei 2023.
“Dit het gelei tot ’n swak ekonomie waarin huishoudings nie met die stygende lewenskoste kan byhou nie. Bekostigbaarheid is die deurslaggewende faktor wanneer klante ’n nuwe voertuig wil koop,” sê Keyter.
Die vereniging meen dat minder belasting op die brandstofheffing en ’n algehele laer brandstofprys positiewe ekonomiese groei en werkskepping tot gevolg sal hê, met die oog daarop om die werkloosheidskoers van 33% te bekamp.
Misa vrees boonop dat die samesmelting van departemente in pres. Cyril Ramaphosa se regering van nasionale eenheid nog meer vertragings in die hersiening van die brandstofprysmetodologie sal veroorsaak.
Ramaphosa het besluit om die ministeries van elektrisiteit en energie saam te smelt. Daar word geglo dat die departement van minerale bronne nou eers vir mynbou en petroleumbronne verantwoordelik sal wees.
Dit is onduidelik onder watter departement die hersiening van die brandstofprysmetodologie sal val.
“Ons haglike ekonomiese situasie vereis vinnige optrede. Suid-Afrikaners moet weet of die hoë brandstofheffings en belasting geregverdig kan word. Ons wil deel wees van die oplossings om ’n ander bron van inkomste vir die regering te vind, benewens brandstof,” sê Keyter.