Die Matjhabeng-munisipaliteit het ’n waarskuwing oor die verkleuring van die water wat aan sy inwoners verskaf word, uitgereik.
Matjhabeng ontvang sy drinkwater van die waterdiensverskaffer, wat hierdie dienste namens die munisipaliteit verrig.
Die diensverskaffer, Vaal Central Water (VCW), het Matjhabeng en ander munisipaliteite wat deur die Balkfontein-waterpypleiding van water voorsien word, ingelig dat daar fout met hul waterverspreidingstelsel is.
Die munisipaliteit het sy eie stelsel waarmee die gehalte van drinkwater getoets word, maar dié is ontwrig deur die voortslepende massa-protesoptrede van munisipale werkers.
As ’n voorsorgmaatreël vra die munisipaliteit dat inwoners munisipale water eers kook en dan laat afkoel voordat hulle dit as drinkwater gebruik.
As verdere voorsorg, voeg een teelepel (5 ml) ongegeurde bleikmiddel by 25 liter water, en laat staan dit twee uur lank voordat daarvan gedrink word.
Stoor drinkwater in skoon houers wat bedek kan word.
Die munisipaliteit ondersoek saam met die waterverskaffer die rede vir die verkleuring van die water.
Bel die munisipaliteit se kontaksentrum by 057-391-3911, of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 079-885-3311, vir meer inligting.