In ’n poging om misdaad in die Vrystaat te bekamp, ??het die polisie kragte met verskeie wetstoepassingsagentskappe in die provinsie saamgesnoer om 918 mense tydens Operasie Shanela in hegtenis te neem.
Die polisie het met private sekuriteitsmaatskappye, die departement van binnelandse sake, -korrektiewe dienste, -kleinsake-ontwikkeling, -arbeid, die verkeersdepartement en ander wetstoepassingsagentskappe saamgewerk.
Tydens die optrede is 255 persele, 6 083 persone en 2 166 voertuie deursoek. Sewe padblokkades is uitgevoer en die polisie het ’n hoë sigbaarheid op die paaie gehandhaaf.
Die polisie het 241 gelisensieerde drankpersele, 103 tweedehandse handelaars en 40 skrootwerwe in die provinsie besoek.
Tydens hierdie besoeke is agt kennisgewings aan tweedehandse handelaars uitgereik.
Die polisie en relevante belanghebbendes het 83 informele besighede soos spaza-winkels besoek om nakoming van arbeidswetgewing te verseker.
In nog ’n aksie het die polisie, die departement van binnelandse sake en die departement van arbeid 760 plase besoek om nakoming van arbeidswetgewing te verseker, wat ook sigbaarheid in landelike gebiede verhoog het.
Hiertydens is daar sewe mense vir moord in hegtenis geneem.
Die polisie het ook 33 verdagtes vir die besit van ’n gevaarlike wapen; 54 vir dwelmverwante oortredings; tien vir gewapende roof; twee vir sakeroof; drie vir huisroof; nege vir poging tot moord; 93 vir ernstige liggaamlike besering; 84 vir aanranding; twee vir sake-inbraak; 20 vir huisbraak; 24 vir kwaadwillige saakbeskadiging en 15 vir bestuur onder die invloed van alkohol of dwelms in hegtenis geneem.
Die polisie het ook 381 verdagtes wat gesoek word, in hegtenis geneem. Hulle het ook beslag gelê op sowat 1 195 liter alkohol, 31 gevaarlike wapens, dagga, kokaïen, tik, nyaope en mandrax.
In haar interaksie met die gemeenskap het lt gen. Baile Motswenyane, kommissaris van die polisie in die Vrystaat, gesê sy wil die gemeenskap verseker dat hulle elke week alles sal gee om ’n verskil in die provinsie te maak.
“Ons is hier om ons mandaat uit te voer, en om te verseker dat misdadigers voor die gereg gebring word en ook om grondoorsake van misdaad aan te spreek,” het sy gesê.